‘n Wit vrou oor xenofobie
Ek is ’n gewone, Afrikaanssprekende, blanke Suid-Afrikaner. Eintlik maar ’n Afrikaan. Die Afrika-kontinent is tog my aardse woning. Waar ek grootgeword het en gemaklik voel. Hiér woon my mense reeds geslagte lank. Ek het nie meer enige bande met Europa nie. Hoe voel ek, ’n blanke Suid-Afrikaner, die spreekwoordelike vrou-op-die-straat, oor die xenofobie-kultuur wat in ons land heers?

Vreemdelinghaat. Xenofobie. Xenomanie. Vreemdelingevrees.
Haat. Fobie. Vrees. Manie. Hierdie is beslis nie woorde wat lekker op die krop van my maag sit nie.
’n Fobie is ’n sieklike vrees. ’n Manie is ’n dwase en sieklike sug tot iets. Die Griekse woord “xenos” beteken “vreemd” of “vreemdeling”. Vreemdelingehaat en -vrees.
Ek is ’n gewone, Afrikaanssprekende, blanke Suid-Afrikaner. Eintlik maar ’n Afrikaan. Die Afrika-kontinent is tog my aardse woning. Waar ek grootgeword het en waar ek gemaklik voel. Hiér woon my mense reeds geslagte lank. Ek het nie meer enige bande met Europa nie.
Ek het die laaste ruk verskeie stukke gelees en videogrepe gekyk oor die vlaag van xenofobie wat die land op horings geneem het. Die sooibrand stoot in my keel op en ek voel vreemd-senuweeagtig. Die woedende skares en die veg- en moordlus skok my keer op keer.
En ek kan nie help om aan kommentaar te dink wat ek op News24 gelees het nie: “You whites. You always think you are better than blacks. Go back to where you came from. We don’t need you. We don’t want you. We hate you.” Hierdie is maar een aanhaling. Daar is letterlik nog duisende soortgelyke kommentare oral op die internet en op sosiale media te vind. En die blankes se antwoorde help nie eintlik om die situasie te ontlont en die vrede te bewaar nie.
Hoe voel ek, ’n blanke Suid-Afrikaner, die spreekwoordelike vrou-op-die-straat, oor die xenofobie-kultuur wat in ons land heers?
Dit maak my senuweeagtig-bang. As ek weer die aanhaling hierbo lees, besef ek dat blankes maar steeds deur menige Afrikaan as “vreemdelinge” in Afrika beskou word – ten spyte van die feit dat daar reeds vir om en by 360 jaar lank blankes aan die Suidpunt van Afrika woon. Plaasmoorde val, volgens my, ook in die kategorie van “xenofobiese moorde”. Dit is ‘n senutergende gedagte…
Ek voel gewalg deur die strydlus en die geweld waarmee die xenofobie gepaard gaan. Die foto’s is skokkend. Sien ’n fotoverslag deur David Sim. Die opgesweepte skares dans dol met pangas en lang messe in die hand. Knopkieries en ander wapens, waaronder vuur, is sigbaar en word vrylik gebruik. Die gesigsuitdrukkings is meestal koud en berekend. Xenofobiese misdade word dikwels met ‘n gryns om die mond gepleeg.
As ek aan die hooffunksies van ’n funksionele staat dink, is een die beskerming en versekering van die veiligheid van landsburgers, onder andere. Veiligheid is ook ’n konstitusionele reg volgens artikel 12 van die Grondwet. Artikel 7 bepaal die toepassing en strekking van die Grondwet: “This Bill of Rights is a cornerstone of democracy in South Africa. It enshrines the rights of all people in our country and affirms the democratic values of human dignity, equality and freedom. The state must respect, protect, promote and fulfil the rights in the Bill of Rights.” Dit sluit dus “vreemdelinge” in en nie net landsburgers nie.
Hierdie “cornerstone” waarvan die grondwet praat, is besig om te verkrummel en die regering draai ’n blinde oog. Poog maar net halfhartig om die vure wat oral uitspring te blus.
Boonop voel ek nie net onveiliger as ooit in my eie land nie. Die res van Afrika is woedend en wys dit. Sal ek ooit weer ’n ander Afrika-staat met vrymoedigheid kan besoek? Of sal ek daar in ’n vreemde land as ’n vreemdeling uitgekryt, verjaag en dalk beseer of vermoor word? Watter implikasies hou sanksies deur ander Afrika-moondhede vir Suid-Afrika in? Die wye strekking van die gedagte is ampertjies te groot om aan te dink.
Verder pla dit my dat daar nie beter beheer is wat immigrante aanbetref nie. Ongeveer vyf miljoen wettige en onwettige immigrante het hulle in Suid-Afrika tuis gemaak as gevolg van diktators, oorlog, armoede en onstabiliteit boontoe op in Afrika. En die “open border”-beleid van die regering bevorder dit. Elke immigrant plaas ’n ekonomiese las op landsburgers en infrastruktuur. Verder lê Suid-Afrika se werkloosheidsyfer iewers tussen 25 en 40%. In hierdie opsig kan ek in ’n sekere mate nie die vreemdelingehaters kwalik neem nie. Alhoewel dit wettigheid van hierdie sentiment debatteerbaar is…
Die vlaag van xenofobie laat my skaam kry. Kliek hier om ’n videogreep te kyk wat hierdie skaamte mooi illustreer. Ek kry werklik skaam vir my mede-landsburgers se optrede. Dit spreek van onverdraagsaamheid, ’n absolute minagting vir die term “reënboog nasie” en anargie.
So van anargie gepraat. Die anargie wat tans in ons pragtige land heers is kommerwekkend. Ook die voorkoms van vigilante-groepe wat reg in eie hande neem. Die amptelike liggame funksioneer doodeenvoudig nie behoorlik nie. Dit laat my onrusbarend-onveilig voel.
Die kerk se stiltes pla my. Waar staan hulle in hierdie hele noodsituasie? Ek weet nie want ek hoor niks nie. As die kerk opgestaan en standpunt ingeneem het, behoort elke Suid-Afrikaner dit te weet.
Wel, wat kan ek, Liezel, doen?
Aanhou praat en my skok uitspreek.
Verder kan ek maar net bid vir hierdie pragtige land van ons. Dat die chaos in orde omskep sal word en dat mense vrede sal vind. Ek kan bid dat liefde en verdraagsaamheid die oorhand sal kry oor haat en welwillendheid.
Ons vir jou, Suid-Afrika!
