BlogsOpinion

DONDERDAG BLOG – Liewe Kredietkaartsmous

Ek en my kredietkaart gaan nie vandag, môre óf altyd saam die sonsondergang instap nie.

Liewe Letitia

Jy jok.

Groete, Helene

Letitia* irriteer my. Sy is die vroumens wat vir die bank werk. Haar kantoor is iewers in die stad. Wanneer ‘n mens die rooi telefoon in die bank vol komplimente bel, kom jy by haar uit. Dis haar werk om jou dooie kredietkaartrekening weer lewend te maak.

Haar truuks het nie gewerk nie, omdat ek voet by stuk gehou het. “‘n Kredietkaartrekening is ‘n slegte idee en ek wil die rekening toemaak. Dankie. Los my nou uit.”

Ek is by die bank uit en het besluit om die besonderhede van my en my kredietkaart se verhouding kortliks neer te pen. My storie het begin aan die einde van matriek toe die bank bel: “Juffrou Eloff, jy is deel van ‘n uitverkose groep jongmense wat ‘n spesiale studentekredietkaart mag kry. Ons is eintlik net besig om jou te help om ‘n kredietrekord op te bou.” Ek het so ‘n rekening oopgemaak en begin bou aan my kredietrekord.

Die kaart het ‘n R 200 perk gehad en ek het die geld alewig opgebruik. Dan moes ek maar weer die R 200 oorbetaal wanneer ek geld gekry het. Ek het vir die bank gewys dat ek my deel doen – hulle het met transaksiekostes lekker geld gemaak uit hierdie dom kliënt.

Die ink op my eerste aanstellingsbrief was skaars droog toe een van Letitia se makkers my weer bel. “Ons sien jy het nou ‘n werk.” Ek is weer daaraan herinner dat ek spesiaal en uniek is en dat ek daarom kwalifiseer vir ‘n kredietkaart waarmee ek baie meer geld by die bank kan leen. Daar is 18.25% rente per jaar gehef op elke bedrag wat ek geleen het, terwyl ‘n mens met ‘n persoonlike lening 9.2% rente betaal.

Ek het ditjies en datjies op skuld gekoop en toe ek weer sien, het ek R12 000 geskuld op ‘n kredietkaart met ‘n R10 000 limiet.

Ek het die rekening afbetaal en wou dit gister in die bank gaan sluit toe hulle my voor ‘n rooi telefoon neersit. Die vriendelikste vrou in die wêreld het deur die rooi telefoon met my gesels. “Ag Juffrou Eloff, hoekom wil jy jou rekening sluit?” het Letitia gevra.

“Want dis ‘n simpel idee om een te hê,” het ek geantwoord.

“Maar jy het dan reeds so ‘n mooi kredietrekord opgebou met hierdie rekening. Wil jy dit alles nou net so in die niet laat verdwyn?” Die vrou het dit laat klink asof ek besig was om iemand dood te maak of ‘n huwelik te beëindig.

“Letitia, ons altwee weet dat ek glad nie ‘n mooi kredietrekord kan hê nie. Ek het ‘n paar betalings oorgeslaan en geld getrek wanneer ek nie moes nie vir dinge wat ek nie nodig het nie. Maak toe die rekening.”

‘n Rits van dramatiese scenarios het gevolg. Dit was vir my duidelik dat Letitia nou pens en pootjies in ‘n resussitasieproses ingeklim het. Die berrederingspoging wat sy geloods het om my rekening aan die lewe te hou, herinner aan iets uit ‘n hospitaalfliek. Haar retoriese vrae was vol eerstewêreld-probleme.

“Juffrou, jy moet ingedagte hou dat jy nie meer vliegtuigkaartjies gaan kan koop met jou kredietkaart nie!”
Letitia het ‘n gilletjie gegee en haar asem opgehou.
Uhm, ek het nog nooit enige vliegtuigkaartjie gekoop nie. Ek sal vir een spaar wanneer ek een wil koop.

“Ag en jy weet mos hoe ons vroue is. Hoe gaan jy nou daardie mooi paar ontwerperskoene bekostig wanneer die begroting ‘n bietjie druk?”
Hoekom gaan ek 18,25% meer vir ‘n paar skoene betaal wat ek nie nodig het nie, met ‘n kaart wat vir my die illusie gee van geld wat ek nie het nie? Die skoene kos R2 000. Ek het nie R2 000 nie. Nou gee ek my kredietkaart en betaal uiteindelik R2 365 oor 12 maande. Letitia, hoe maak dit sin?

“Maar wat sal jy doen as ‘n noodgeval jou tref en jy het skielik geld nodig?”
My besittings is verseker en ek het ‘n mediese fonds.

“Ons kredietkaarte het die laagste rentekoers en is uniek, want ons bied rentevrye krediet,” hou sy ‘n laaste wortel voor my gesig. Die vrou se gebrek aan logiese redenering gaan my verstand te bowe.
Letitia, jou kredietkaart se krediet is rentevry wanneer ek aan ‘n onwaarskynlike voorwaarde voldoen.

Vir die krediet om rentevry te wees, moet ek die volledige uitstaande skuldbedrag binne 57 dae nadat ek die kaart gebruik het terugbetaal. 

Nou goed. Kom ons kyk na die rede vir die uitneem van ‘n kredietkaart: ‘n mens neem ‘n kredietkaart uit sodat jy geld kan leen wanneer jy nie geld het nie.

Hoe op aarde gaan ek geld wat ek geleen het omdat ek dit nie het nie, binne 57 dae terugbetaal?

Sy het moed opgegee en besef dat sy maar die kaart aan iemand anders moet probeer verkwansel.

Wees gewaarsku. Wanneer die vrou aan die ander kant van die rooi telefoon mooi goedjies in jou oor fluister, hou verby. Sy laat die aangaan van skuld soos ‘n wittebrood klink, maar jy en jou kredietkaart gaan nie vandag, môre óf altyd saam die sonsondergang instap nie.

Met komplimente van Helene.

*Skuilnaam

Lees ook:

Hier steek ons draak met dokters.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button