Om te dagvaar vir laster is moeiliker as wat jy dink
'n Gekibbel kan in baie beperkte omstandighede tot die instel van 'n lastereis lei en dit blyk makliker te wees om dit teen te staan as wat baie verwag.
Wanneer een persoon ‘n opmerking maak wat ‘n ander raak, kap laasgenoemde maklik terug met die dreigement: “Ek gaan jou vir laster dagvaar!” Nelspruit Post het by kundiges gaan kers opsteek.
‘n Gekibbel kan in baie beperkte omstandighede tot die instel van ‘n lastereis lei en dit blyk makliker te wees om dit teen te staan as wat baie verwag.
Die reg rondom laster is ‘n onsekere gebied van die Suid-Afrikaanse reg. Die Onregmatige Daad in die Suid-Afrikaanse Reg, ‘n hoogs aangeskrewe boek deur akademici N.J. van der Merwe en P.J.J. Olivier, verduidelik dat die daad van belediging in twee vorme voorkom: Laster en iniuria.
Laster behels die pleeg van ‘n daad wat die slagoffer se gevoel van eer en agting in die gemeenskap (met ander woorde voor ‘n derde persoon) benadeel. Laster word as motivering vir die lê van ‘n siviele klag gebruik, waar geld as vergoeding geëis kan word. Iniuria tas die benadeelde se eie eergevoel aan. Laasgenoemde aantasting hoef nie voor ‘n derde plaas te vind nie.
Iniuria is ‘n strafregtelike aanklag en die beskuldigde kan in die hof ‘n straf opgelê word.
Wanneer iemand besluit dat hy ‘n ander op grond van beweerde laster wil dagvaar, moet die eiser bewys dat:
• Die opmerking wat teenoor hom gemaak is, lasterlik van aard is,
• Hierdie opmerking na die eiser spesifiek verwys
• Hierdie opmerkings deur die verweerder se toedoen onder die aandag van ‘n derde gekom het.
‘n Mens kan nie van laster teen die regering aangekla word nie. Suid-Afrikaanse howe het bevind dat dit ontoelaatbaar vir belastingbetalers sal wees om te betaal vir die loods van regsaksies teen diegene wat die manier waarop die regering die land bestuur, kritiseer.
Laster kan slegs teen ‘n lewende persoon gepleeg word.
Wanneer jy vir laster gedagvaar word, kan jy verskeie verwere gebruik om jou onskuld te verdedig. Jy kan onder andere bewys dat jy nie die bedoeling gehad het om ‘n lasterlike opmerking te maak nie. Onkunde met betrekking tot die aard van die opmerking of die humoristiese strekking daarvan, kan bewys word. Waar die eiser toestemming gegee het tot die maak van so ‘n stelling teen hom, kan dit as verweer geld. In gevalle waar die opmerking in die openbare belang gemaak is, kan hierdie feit bewys word en in die verweerder se guns tel. Nelspruit Post beveel wel aan dat enigeen wat met ‘n lastersaak te doen het, ‘n prokureur in die verband gaan sien.
