
Ek’s nie n drukkie mens nie. Ook nie ‘n soentjie of handjies vashou een nie. Ek gril as ek sien hoe die jongmanne mekaar druk, halflyf of nie.
As ek in die tou by die bank staan, gebruik ek enige denkbare tegniek om te verseker dat niemand te naby aan my is nie. Of nog erger, dalk aan my raak. Soms ontwikkel ek die verskriklikste hoes en as dit nie werk nie, begin ek verskriklik krap sodat die mense om my bang raak hulle kry vlooie. Of dalk dink hulle net ek is mal en besluit om maar ‘n afstand te hou. Hoe dit ook al sy, dit werk en ek verkies dit so.
Van my naarste nagmerries kom van kindertyd by familiereünies waar onbekende verlangse tannies my vasgedruk het. En wanneer hulle nader kom met sulke blink, nat, harige tuitlippe, skrik ek papnat van die sweet wakker. As Plopsie (wat langs my lê) vra waarvan ek so droom, sê ek maar dis van inbrekers en so.
Die punt is ek hou nie daarvan as mense aan my vat nie. As ‘n reël gril dit my erg. Amper so erg soos mense wat lelik kou, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag. Maar elke reël het mos maar sy uitsondering en tot my groot skok, vind ek dit uit toe Thandi een dag my hare by die haarsalon was.
Die hele harewas-ding was nuut vir my. Ek was maar gewoond om na ‘n knippie te gaan stort by die huis. Toe ek eenkeer inderhaas moes hare sny, was my persoonlike haarkapper nie beskikbaar nie. By die nuwe plek snip-snip hulle gou en toe ek wil opspring om te betaal sê die dame: “Nee, hokaai. Kom ons spoel net eers gou daai los haartjies af.”
Sy vang my toe so onkant ek kan nie eens aan ‘n verskoning dink nie. Voor ek wat-wat, toe sit ek agteroor met my kop in ‘n wasbak en kyk na die dakwaaier. Ek knyp toe maar oë toe en hoop dit sal gou verby wees.
Die ding is, en dis nogal moeilik om te erken, toe Thandi eers begin was, toe wens ek sy hou nooit op nie. Sy ken al die moves. Eers druk sy so op al die regte plekke. Dan maak sy sulke sirkelbewegings en nes jy dink dit kan nie lekkerder nie, haal sy so draadtoestel uit en kielie jou kapsel dat jy hoendervleis kry tot onder jou kleintoontjienael. En as sy jou hare klaar afgespoel het, doen sy alles weer met conditioner.
Na daai dag gaan ek getrou elke maand na payday terug. Soms sny hulle nie te sleg nie, maar Thandi se hande maak dat ek altyd met ‘n smile daar uitstap.
Sien ook:
Is jy woes genoeg om laag te rol?
