BlogsOpinionVryerige Vrydae

Die huwelik – bloot ‘n stuk papier?

Hoekom soek jy 'n huweliksertifikaat? Dis bloot 'n formaliteit, 'n stuk papier. Die wet beskou julle in elk geval as getroud en julle geniet net soveel regte as julle getroude eweknieë

Ek is mal oor ‘n regte-egte boerebruilof en al die tradisies wat daarmee gepaardgaan!

Die rys, vleis, aartappels en malva-poeding; die meel op die dansvloer en die birdie-song waarop almal dans; die kousband en ruiker wat gegooi word en die “kinders by dosyne” wat deel vorm van elke heildronk.

Ek en ‘n dierbare vriend, Stephan, het op 19 afgespreek om, sou ons op 30 nog nie getroud wees nie, ‘n troue te hou net vir die pret daarvan. Ek in ‘n pragtige wit gewaad, sou loop tot voor die kansel en hom daar ontmoet. Geen seremonie sou egter voltrek word nie en almal sou net na die saal beweeg vir die lekkerste paartie.

Stephan is dood op 22 en ek is 30. Die tyd het my vinniger ingehaal as wat ek verwag het.

So erg soos wat ek is oor troues, wonder ek deesdae oor die huwelik en die nut daarvan. Ek is streng grootgemaak dat jy nie saambly met ‘n man voor die huwelik nie. My ousus waarsku ook altyd dat ‘n man nie die koei sal koop as hy die melk verniet kan kry nie. Ek glo egter dat baie struikelblokke wat in die huwelik opduik, voor die tyd oorkom kan word deur saam te bly. Dit is immers wanneer jy iemand die beste leer ken. Jy sien hom op sy beste én sy slegste.

Al hoe meer paartjies sit saam huis op voordat hulle getroud is. Gesinne word doelbewus beplan en kinders word verwek en gebore sonder dat die ouers getroud is. Dan, skielik, kry die pa of die ma hierdie brandende begeerte om te trou.

Vir wat? Hoekom soek jy ‘n huweliksertifikaat? Dis bloot ‘n formaliteit, ‘n stuk papier. Die wet beskou julle in elk geval as getroud en julle geniet net soveel regte as julle getroude eweknieë.

Ek hoor van mans wat al jare saam met hul meisies bly, maar nie die groot vraag wil vra nie omdat hulle kwansuis nie reg is nie. Nie reg vir wat nie? Jou verhouding is dan reeds soos ‘n huwelik. ‘n Mens sou kon argumenteer dat, sou dinge skeefloop, dit moeiliker sou wees om die verhouding te ontbind. Tog nie, want waar kinders en eiendom betrokke is, moet regsverteenwoordigers in elk geval betrek word.

Die huwelik het dalk nie meer nut nie, maar ek dink ons voltrek dit nog weens die betekenis wat die seremonie self, oftewel die bruilof, inhou. Dit demonstreer opnuut jou verbintenis tot ‘n persoon. Dit wys opnuut dat jy nie van plan is om binnekort jou tasse te pak en agter groener weivelde aan te trek nie. Dis nou as jou maat hou by sy/haar beloftes aan jou.

Christene gebruik troues ook as ‘n geleentheid om hulle liefde vir mekaar voor hulle God te verklaar al het hulle, op grond van interpretasie van die Bybel al dan nie, al die gebooie verbreek deur vooraf saam te slaap én… saam te slaap.

Ag, troues is ‘n mooi gebaar. Daar is soveel gruwels daar buite en ‘n bruilof vestig ons aandag opnuut op die liefde. Maak dit mooi! Kry daardie rooi fluweelkolwyntjies met die roomkaas-versiersel vir die poedingtafel wat jy so graag wil hê. As jy die trouskoene wat R300 meer kos kan bekostig, koop dit. Dis joú dag! Gaan groot! Geniet dit!

Dis maklik om te trou. Dis moeiliker om getroud te bly.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button