Wees lief vir jouself, ongeag hoe jy lyk
Amor was nog altyd fiets en goed gebou. 'n Bykomende vyf kilogram (wat sy oor 'n tydperk van twee jaar aangesit het) sal haar kwalik minder aantreklik of begeerlik maak. Maar dit het haar nietemin gepla. Geweldig!

‘n Obsessie met gewig bedreig ons vroue se geluk.
Ons kan egter nie nét die blaam op die talle mode- en skoonheidstydskrifte skuif wat ‘n onrealistiese beeld voorhou van hoe vroue behoort te lyk nie. ‘n Vrou is ‘n mislike ou ding. Ons gun mekaar niks nie en laat nie ‘n oomblik verby gaan om ander daaraan te herinner dat hulle nié perfek is nie.
‘n Prikkel op Huisgenoot se voorblad oor Amor Vittone het my woedend gelaat: “vyf kilogram swaarder, maar reg vir nuwe geluk”. Dit was die woord “maar” wat my so gebelg het. Dit impliseer dat groter vroue nie geregtig is op geluk nie.
Ek blaai verder deur die betrokke tydskrif en sien ‘n artikel oor Sorina Erasmus, ook bekend as Die Flooze (van Witbank), wat 14 kilogram afgeskud het na haar swangerskap. Blaai jy nog verder deur dieselfde uitgawe, kom jy af op ‘n artikel oor Rachael Farrokh – ‘n Amerikaanse vrou wat by die dood omdraai weens die eetsteurnis, anoreksie.
Amor was nog altyd fiets en goed gebou. ‘n Bykomende vyf kilogram (wat sy oor ‘n tydperk van twee jaar aangesit het) sal haar kwalik minder aantreklik of begeerlik maak. Maar dit het haar nietemin gepla. Geweldig! Sy het egter uiteindelik vrede daarmee gemaak dat die vetjies moeiliker wegsmelt soos die jare aanstap en dra nou klere wat haar bates beklemtoon en die flaters verbloem.
Sorina het ‘n gesonder benadering tot haar ekstra gewig gehad. Sy was bloot moeg daarvoor om nie meer in die klere in haar kas te pas nie en het gesonde eetgewoontes aangekweek en begin om vier keer per week te stap.
Rachael se verhaal, wel… Sy erken self dat geweldige emosionele trauma tot die ontwikkeling van haar anoreksie bygedra het. Dokters is skepties en dink nie hulle sal haar kan red nie.
Kyk: video van Rachael wat vra vir ‘n geldelike bydrae
Oud-Laevelder Claire Thomson het onlangs die Ilovemylyfie-beweging begin om vroue van alle liggaamsgroottes en -tipes aan te moedig om hulself lief te hê. Ek noem aan haar dat ek, hoewel ek 45 kilogram verloor het en letterlik helfte van die mens is wat ek eens was, nog steeds nie gelukkig is met my lyf nie.
Lees ook: Ilovemylyfie. You should too
Ek was, aanvanklik. Ek was trots op dit wat ek vermag het. Totdat ek voor vriendinne uitgetrek en hulle smalend verwys het na velle wat nou hang of opgemerk het dat ek nou té maer is. As hulle dink daar is fout, dan is dit mos so.
Ons is elkeen uniek en behoort dit te vier! Wie het in elk geval besluit dat ‘n plat maag sexy is of dat ‘n nommer 8-denim die regte grootte is? ‘n Gewig van 70 kilogram lyk verskillend op verskillende mense. Jy het dalk nie sulke ronde stywe boude soos jou beste vriendin nie, maar sy het nie jou gladde vel of reguit neus nie. Sien? Daar doen ek dit ook. Fokus op ander mense se foute in ‘n poging om beter te voel oor myself. ‘n Vrou is ‘n mislike ou ding!

Goeie gesondheid behoort ons almal se enigste voorvereiste te wees vir gewigsverlies. Wees lief vir jouself! Hoe kan jy van iemand verwag om te wees as jy nie is nie?
