My Pa Piet
Op Vadersdag kan ek nie anders as om te besin oor die besonderse, permanente indruk wat my Pa Piet op my lewe uitgestamp het nie. En op baie ander mense se lewens ook.

My pa. Piet.
Mense. Mense is snaakse goed. In my lewe het allerlei soorte en geure voetspore getrap. Kruis en dwars. Intellektuele. Kunstenaars. Dominees. Onderwysers. Vriende. Familie. Sommiges het binne ’n kort tyd positief bygedra tot wie ek vandag is. Ander het weer binne ’n nóg korter tyd ’n, wel, meer klandestiene afdruk op my psige gemaak. Iets soortgelyks aan die selluliet waarvan ek net nie ontslae kan raak nie.
Nou. My pa. Het ’n besonderse, permanente indruk op my lewe uitgestamp.
Sy gesin is ’n groot bos. Nie ’n netjiese, geordende bos nie, maar ’n deurmekaar, interessante bosveld-woud. Vol verrassings. Met ’n eie ekosisteem. Soms hartseer en pyn. Soms probeer elke boom in sy eie rigting waai. Partymaal droogte. En soms ’n lekker nat seisoen. Maar altyd die gevoel van behoort. Die gevoel dat ons klomp saam beter is as een alleen. My pa se bos beweeg en lewe. Groei en gedy. Is maar op die beste van tye onstuimig.
Nie sonder bosbrande nie. Die lelik van die lewe het ons gesin ook bygekom. Hierdie wêreld is immers nie sonder seerkry, pyn en lyding nie. Maar as die rook gesak het, is daar altyd troos te vind. Salf vir die wonde. Liefde ook. Ondersteuning in alle omstandighede. En wat is ’n gesin nou sonder vergifnis en genade vir mekaar se swakhede? Ons wortels lê diep in ons bos. Ons bosveld-woud rondom ’n stewige, groot bosreus gebou.
Ons pa is ’n groot hardekool. Vir hom brand jy nie sommer uit nie. Stewige takke en nog stewiger wortels. Staan hy daar. Reusagtig en imposant. Vol wysheid. Liefde. Troon hy bo die ander bome uit. Die boom in die middel van die bos. My ma langs hom. Vas in haar plek. ’n Kremetart. Hulle takke en wortels stewig verweef.
En dan die kleiner bome wat om hulle versamel. Familie wat bygekom het. Kleinkinders. Skoonseuns. Elkeen wat deur die jare gekies het om deur my pa se bos te stap kom nie onaangeraak aan die ander kant uit nie. En ek het opgemerk dat reisigers die geneigdheid het om maar weer met die terugkomslag deur die bos te stap eerder as om. Want my pa se bos het ’n tuiste geword.
Wat kan ek nog van die bos sê? Ek kan maar net vir Robert Frost aanhaal:
I shall be telling this with a sigh
Somewhere ages and ages hence:
Two roads diverged in a wood, and I—
I took the one less traveled by,
And that has made all the difference .
Pa, dankie dat ek kan deel wees van ’n unieke lewenservaring. En ek wil dankie sê dat ek toegelaat word om in jou bos te wandel. Van die vrugbaarheid te geniet. Skuiling teen die wind en reën te vind. Ek wil dankie sê dat ek toegelaat word om myself te wees. Dankie dat jy my geleer het om die Road less Travelled te stap. Want dít het die verskil in my lewe gemaak.
