‘n Digitale hoekie vir eensames
Daar is iets aanloklik en romanties aan só 'n kletskamer. Jy kan die perfekte jy skep, opsoek na die perfekte maat. Dis die ideale platform vir die eerste afspraak. Dit verminder die druk op albei. Jy kan jou woorde deeglik oorweeg en met die druk van 'n knoppie die beskrywing van jouself aanpas

Ek besoek ‘n nuusblad se webwerf en my oog vang ‘n skakel na ‘n kletskamer vir enkellopendes.
1Gudguy, BlouOog30, Liefdessoldaat, Plaasavontuur – almal skuilname, maar met profielfoto’s by. Of dit werklik húlle is, sal net hulle weet. Lyk darem so. Nie een lyk juis of hulle vir ‘n modetydskrif kan poseer nie.
Lede deel hul ouderdomme en liggings. Daar is altesaam 10 bladsye vol mans en vroue nét in Mpumalanga wat hoop om só ‘n sielsgenoot te ontmoet. En dis net heteroseksueles.
Jacquelr (27) van Witrivier, het die volgende beskrywing van homself gelaai: “Like vissing dansing and to spolle woman .hou van kinder is eerlik en loefde vollis regheid en op my plej”. As joernalis en snobbistiese taal-puris, is ek dadelik afgesit deur al die spel- en tikfoute. Siesa! Hou links, gaan regs verby.
Micl27 van Secunda vaar nie veel beter nie. “I’m a avarige person in the lookout for a deasend girl that can share life with me. And must like to take a a gamble in life”.
Voeta (37) skryf: “I am a hard working man. Always gives my best. Like to laugh and make people laugh. Straight forward. What you see is what you get. Loving and caring.”
Dit klink stukke beter, maar ek wil nie in Volksrust gaan bly nie. Die plek is net te koud in die winter en te klein.
Van die mans sê sommer uit die staanspoor dat hulle seksueel avontuurlustig is en dit ‘n vereiste in die ideale pasmaat is.
Ek gaan verander die soekkeuses en sê ek is ‘n man opsoek na ‘n vrou. Die vroue is meer teruggetrokke. Baie maak dit duidelik dat hulle al baie seergekry het en dat kansvatters hulle liefs nie moet kontak nie. Dis opvallend hoeveel enkelma’s op die webwerf geregistreer is. Hulle maak dadelik melding op hulle profiele dat hulle kinders het, die mans nie.
Daar is iets aanloklik en romanties aan só ‘n kletskamer. Jy kan die perfekte jy skep, opsoek na die perfekte maat. Dis die ideale platform vir die eerste afspraak. Dit verminder die druk op albei. Jy kan jou woorde deeglik oorweeg en met die druk van ‘n knoppie die beskrywing van jouself aanpas.
Totdat jy die verhouding na die volgende vlak wil neem en die persoon fisies ontmoet. Gaan die prentjie dan nog so rooskleurig lyk? Dan het jy nie meer die voordeel van digitale redigering nie. Jy kan nie dan ‘n vorige opmerking verander of eers die 10e selfie waarop jy na iets lyk, as profielfoto voorhou nie. Dan is wat jy sien, wat jy kry.
Maar sê nou net. Sê nou jy is een van daai min gelukkiges wat die kans gewaag het en aangenaam verras word? Dan sit jy met ‘n gelukkige einde so reg uit die rolprent, You’ve got mail. Hoera!
Ek gaan dit egter liefs nie probeer nie. My gelukkige einde is eerder so reg uit ‘n rolprent soos… Dirty Dancing. Of Fifty first dates. Dalk moet ek my huidige draaiboekskrywer afdank en ‘n nuwe een kry.
