Die voor- en nadele van alleenbly
Daar is egter niemand om vir my toiletpapier aan te gee as ek gaan sit het sonder om te besef daar is nie meer 'n enkele velletjie aan die rol oor nie. Krisis

Ek berei Dinsdagaand vir myself ‘n feesmaal voor: skaaptjops, brokkoli en blomkool met ongegeurde joghurt en mozzarella-kaas en geroosterde patats. Ek plaas ‘n foto daarvan op Instagram en Facebook met die onderskrif: “aandete vir een, aandete vir die res van die week”.

Dis die slegte ding van kosmaak vir net een mens: ‘n hele klomp oorskiet waaraan jy die res van die week moet eet. ‘n Facebook-vriend merk dan ook op dat dit hoogtyd is dat die “aandete vir een” verander in “aandete vir twee”. Ja-ja…
Só weeg ek opnuut die voor- en nadele van alleen-wees en -bly op:
1. Ek kan maak waarvoor ék lus is. Ek hoef nie iemand anders se nukke en grille en fiemies in ag te neem nie. Daar is byvoorbeeld geen komkommer in my slaai nie, want ek eet dit nie. Maar helaas, ek eet die res van die week aan daardie kos. Teen die derde aand kan dit eentonig raak.
2. Ek het ‘n hele koningin-grootte bed vir myself. Niemand skop my in die rug of snork my wakker nie. Daar is egter niemand om my vas- en warm te hou nie.
3. Ek hoef nie die toiletsitplek aanhoudend op-en-af te slaan nie. Daar is absoluut geen nadeel hieraan verbonde nie.
4. Daar is egter niemand om vir my toiletpapier aan te gee as ek gaan sit het sonder om te besef daar is nie meer ‘n enkele velletjie aan die rol oor nie. Krisis.
5. Ek kyk nie TV nie, maar reekse op my skootrekenaar. Ek kan kyk wat ék wil, wanneer ek wil. Geen gestryery oor ‘n afstandbeheer of ‘n kwansuis vervelige program nie. Ek mis wel die kussinggevegte wat dikwels daarmee gepaardgaan.
6. Ek moet altyd ‘n nutsman laat kom sodra ‘n kraan of ‘n lig moeilikheid gee. Daar is geen voordeel hieraan verbonde nie, tensy die nutsman enkellopend en aantreklik is.
7. As ek siek is, is daar niemand om vir my ‘n koppie tee te maak of my rug te vryf nie.
8. Ek kan hard poep net wanneer ek wil. Vreugde!
9. Ek hoef nie ‘n badkamer met iemand te deel nie. Salig.
10. Daar is niemand om huistakies te deel nie. Dis altyd ek wat skottelgoed en wasgoed was. Aaklig!
11. Daar is niemand om rekeninge te deel nie. ‘n Absolute nadeel.
12. As ek ‘n geluid hoor in die aand, is daar niemand anders om op te staan en te gaan ondersoek instel nie. Vervlaks.
Een ding het ervaring my geleer: jy bly óf heerlik saam met iemand, óf dis ‘n absolute nagmerrie. Ek bly eerder alleen in vrede as saam met iemand en jy voel soos ‘n vreemdeling in jou eie huis.
