BlogsOpinionVryerige Vrydae

Was die lewe maar soos ‘n boks sjokolade

As ek die lewe moet vergelyk met 'n boks sjokolade, dan sal ek maar aan 10 blokkies met aarbei- of lemoenvulsel hap, net om by die lekkeres met die karamel- of roomvulsel uit te kom

Hierdie week laat my erg depressief. Daar is soveel hartseer in die wêreld. Ek verstaan hoekom mense nie meer nuus kyk of koerante lees nie. Al was ek nie ‘n joernalis van beroep nie, sou ek egter nie kon wegdraai van die waarheid nie.

Ek het gelees van ‘n vrou (86) wat dood is nadat sy wreed aangerand is tydens ‘n plaasaanval in Mei. Haar seun het opgemerk dat sy natuurlik aan nie minder nie as 17 kinders geboorte skenk het, met net die hulp van ‘n vroedvrou, maar dat sy nie sterk genoeg was vir ‘n plaasaanval nie.

Ek lees van ‘n jong ma wat dood is aan varkgriep ‘n maand nadat haar dogtertjie met ‘n keisersnit in die wêreld gebring is. Dié babatjie sal nou nooit haar ma ken nie. Haar pa weet nog nie hoe om die nuus van haar ma se dood aan haar ousus (4) oor te dra nie.

Ek lees van ‘n dogtertjie van 12 wat haar eie lewe geneem het. Dan lees ek op sosiale media van ouers wat skaars drie maande gelede hulle enigste kind (16) ook aan selfdood moes afstaan, wat nou hulle skeiding aankondig. Ek kan maar net raai dat dié kind moontlik die gom in die huwelik was. Die ouers was dalk saam ter wille van die kind. Noudat sy weg is, wat is die punt?

Alfred Lord Tennyson het gesê: “It is better to have loved and lost than not have loved at all“. Ek wonder darem… As ‘n verhouding werk, is dit absoluut wonderlik. As jy egter gebroke daar uitstap… ‘n Deel van jou gaan verlore wat jy net nooit weer terugkry nie.

Sê nou ek moet na net drie jaar se getroude lewe my man aan die dood afstaan? Sê nou ons verloor ‘n kind of, die hemele behoed ons, twee of selfs meer? Hierdie dinge gebeur. Nie met ander mense nie. Met joú en my. Hoe oorleef enige verhouding en/of huwelik so iets?

Hoe staan jy in die oggende op en maak ‘n bestaan? As ‘n mens maar net kon weet wat die toekoms inhou. Sou jy weer dieselfde keuses maak? Ek het al so seer gekry in ‘n verhouding dat ek wens ek het die man liewers nooit ontmoet nie. Die seer waarmee ek sit oorskadu die wonderlike herinneringe net te veel.

Maar dan… dan lees ek van tannie Esmé (89) en oom Lambertus (90) du Preez wat hierdie jaar hulle 70ste huweliksherdenking vier. Hulle is nog net so verlief soos die dag toe hulle ontmoet het. Natuurlik was hul huwelik nie net maanskyn en rose nie, maar tannie Esmé noem dat geloof, liefde en respek hulle deur die moeilike tye gedra het.

Forest Gump se ma sê mos in die rolprent: “life is like a box of chocolates, you never know what you’re gonna get“. Partykeer byt jy ‘n sjokolade en ontdek die soetste karamelstroop aan die binnekant. Ander kere vat jy ‘n hap, onwetend dat dit daai aaklige aarbei-vulsel in het. Maar die smaak is net tydelik. Die slegte, maar ongelukkig ook die lekker.

"Life is like a box of chocolates" - Forest Gump.
“Life is like a box of chocolates” – Forest Gump.

As ek die lewe moet vergelyk met ‘n boks sjokolade, dan sal ek maar aan 10 blokkies met aarbei- of lemoenvulsel hap, net om by die lekkeres met die karamel- of roomvulsel uit te kom. Al is dit net drie van hulle. As die lewe maar net soos ‘n boks sjokolade was. So eenvoudig. Want dan is selfs die slegte die moeite werd.

• My gunsteling sjokolade is wit. Milkybar. Dis nie eintlik sjokolade nie, ek weet. Wit Lindt sjokolade-balle is welkom! Hulle is egter skaars, so Oreo-slabs sal ook deug.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button