BlogsOpinionVryerige Vrydae

In sak en as

Vasbyt Nicolene. Die onverwagse het soms die geneigdheid om ons te byt, soms vir ons eie beswil

My hart is aan skerwe. Een van die groot liefdes van my lewe het my verlaat. My gelos sonder enige waarskuwing.

Ek weet nie watter pyn erger is nie – die fisiese of die emosionele. My lewe het in ‘n groot mate sin verloor. Ek sukkel om soggens op te staan en werk toe te kom. Ek weet eerlikwaar nie hoe ek gaan oorleef nie.

My lewe is saai sonder draf. Betekenisloos. Wyn los nie probleme op nie. Maar melk ook nie.
My lewe is saai sonder draf. Betekenisloos. Wyn los nie probleme op nie. Maar melk ook nie.

Hierdie keer was dit nie ‘n man wat my in die liefde verlaat het nie. Maar draf. Ek het op Saterdag, 18 Julie my eerste halfmarathon voltooi. ‘n Totaal van 21.1km sonder enige probleme. Ek het daardie middag skeefgetrap en my enkel verstuit. Die pyn was verskriklik, maar ek was gerus dat dit binne enkele dae sou weg wees.

Dis bykans twee weke later en dit is nie. Ek loop nou nog mank weens die pyn. Die dokter se nuus was nie goed nie. Ek het ‘n geweldige ontsteking in ‘n tendon in my voet weens ooreising tydens die wedloop. Ek mag vir ‘n minimum van 10 dae nie draf nie. Dit kan tot vier weke duur om te genees. Vier weke. Dalk selfs langer. ‘n Voet is ‘n wetter. Dit vat langer om te genees omdat dit nooit behoorlik kan rus nie. Vier weke. Hoe gaan ek vier weke sonder draf oorleef?

Die tendon heel links op die foto, is ontsteek in my voet.
Die tendon (heel links op die foto) in my voet is ontsteek.

Draf is al vir meer as twee en ‘n half jaar onlosmaaklik deel van my lewe. Nee, dit ís my lewe. My passie. My liefde. Dit was daar vir my toe mans werklik my hart gebreek het. Dit was daar vir my wanneer ‘n telefoonoproep na my ouers en sussies nie genoeg was om die verlange en afstand van honderde kilometers tussen ons te oorbrug nie. Dit was daar wanneer dinge by die werk te veel geraak het.

Vir daardie 25 minute of meer op ‘n slag, is dit net ek en die pad. Net ek en my liggaam. Jy kom weer in voeling met jouself, jou menswees. Jou bestaan kry weer sin, betekenis. Jy besef as jy daardie bult kan uithardloop, kan jy enigiets vermag. Enigiets!

Soos met enige trauma of verlies in jou lewe, gaan jy deur vyf fases van rou:
1. Ontkenning
2. Woede
3. Onderhandeling
4. Depressie en
5. Aanvaarding.

Ek gaan tans deur fases twee tot vier tegelyk. Ek is woedend man! Draf het my gelos toe ek hom die nodigste gehad het! Hy het my hárd geslaan. Maar ek gee nie om nie. Ek sal hom enige tyd terugvat. Met ope arms terugverwelkom. Ek vrees ek gaan nooit by fase 5 uitkom nie.

Ek het al twee keer vantevore beserings oorkom. Maar hierdie ene, ek weet nie. My moed is hierdie keer gebreek. Draf het my hierdie keer verlaat toe ek dit die nodigste gehad het. Ek hoop van harte dié skeiding is net tydelik. Ek sal hom met ope arms terug verwelkom as hy besluit hy is weer reg vir my.

Ek is op my gelukkigste as ek draf.
Ek is op my gelukkigste as ek draf.

Die depressie wil nie wyk nie. As ek net verby iemand ry wat draf dan tjank ek. Dan verlang ek opnuut. Dan koester ek al die mooi herinneringe.

Drama queen wat ek is, het ek my lot op Facebook bekla. Kollega in die mediabedryf, Buks Viljoen, het die volgende kommentaar gelos waaraan ek vashou: “Vasbyt Nicolene. Die onverwagse het soms die geneigdheid om ons te byt, soms vir ons eie beswil.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button