BlogsOpinionVryerige Vrydae

Operasie Man-vang ‘n volslae mislukking

Daar is nie een enkele ander man wat alleen kerk toe kom nie. Die blink trouringe verblind jou soos jou oë soek vir 'n oop plekkie tussen die rye en rye kerkbanke

Ek sukkel in my soeke na ‘n man. Om een te ontmoet, wat nog te sê ‘n verhouding aan te knoop.

Toe ek agt jaar gelede Nelspruit toe getrek het, is ek gewaarsku dat die stad baie kliekerig is en ek sou sukkel om vriende te maak. Ek het nie. Ek is deur kollegas aan die destydse Kegg & Jock bekendgestel en daar was hope geselskap om van te kies. Met die eerste kuier dáár het ‘n kollega se vriend my genader.

Met die volgende afspraak het ek sommer ‘n bottel Tommy Girl-parfuum by hom present gekry en ek het gedink ek is in die stad van melk en heuning.

Nou is dit moeilik. En ek kan nie my vinger plaas op hoékom nie. Dalk het die jare sy tol op my geëis en is ek leliker. Minder toeganklik. Maar dis nie net die mans nie, hoor. Ek maak min nuwe vroulike kennisse ook.

Ek en ‘n vriendin sal uitgaan en alleen by ‘n tafel gaan sit. Niemand nooi jou oor vir ‘n geselsie nie. Boonop is ek oudtyds en voel ‘n man moet die vrou nader, nie andersom nie. Vrydagaand by Stoep het ‘n man by die tafel oorkant darem ‘n shooter aangestuur my kant toe, maar dis dit. Nie homself kom voorstel, ‘n telefoonnommer op ‘n servet geskryf en saamgestuur nie, niks. Nou hoe nou?

Mense het my al telkens gewaarsku ek moenie ‘n man in ‘n kroeg loop soek nie. Maar waar anders? Gaan ek bloot na ‘n gesellige kuier of ‘n braai by iemand se huis, daag almal anders op met metgeselle. Klaar gedeps, klaar gevat. Ek is altyd die vyfde wiel aan die wa.

Daar is nie een enkele ander man wat alleen kerk toe kom nie. Die blink trouringe verblind jou soos jou oë soek vir ‘n oop plekkie tussen die rye en rye kerkbanke.

Ek is lid van ‘n maratonklub, maar raak dáár ook nie geholpe nie. Of die mans is in hul goue jare of óók getroud. Boonop sit ek nou met ‘n stresfraktuur wat my sowat ses weke van die pad af gaan hou. My kanse om die liefde van my lewe te ontmoet is nou nóg skraler.

Ek dink ek lyk uiters sexy met my moonboot en krukke, maar ek weet nie of almal dié sentiment gaan deel nie.

Mense spot as hulle die moonboot sien en vra oor wie is ek beenaf. Ek wens! Die stoflagie op my rak raak net al dikker.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button