BlogsLife is beautiful - with LiezelOpinion

Is jy skuldig aan kindermishandeling van ’n ander aard?

Kinderverwaarlosing van ’n heel ander aard druk die laaste ruk swaar op my gewete. ’n Kommerwekkend-algemene vorm van verwaarlosing wat ons almal daagliks teëkom. En dit is eintlik vreemd, want geen ouer wil tog as ’n kinderverwaarloser bekend staan nie – veral nie dié wat nooit ’n hand teen hul gelukkige en welgevoede en -geklede kinders sal lig nie.

Daar word agter bakhande gepraat oor kindermishandeling en -verwaarlosing en die sondaars word in die hel in verdoem.

Dit herinner aan stories van kinders wat fisiek aangerand en verkners word. Kinders wat honger ly en huilend en vuil met min klere aan die lyf rondloop – dwalend en verlate. Ons almal hoor van tyd tot tyd sulke benoude nuusbrokkies wat harte pynlik-stewig in twee hande vasdruk en trane in die oë bring.

Tog is fisieke geweld en onversorgdheid nie die enigste vorme van verwaarlosing en mishandeling nie. Sielkundiges en opvoedkundiges praat ook van emosionele afknouing en ouers wat kinders verwaarloos deurdat hulle doodeenvoudig nie genoeg aandag aan hulle gee nie.

Maar. Kindermishandeling van ’n heel ander aard druk die laaste ruk swaar op my gewete. ’n Kommerwekkend-algemene vorm van verwaarlosing wat ons almal daagliks teëkom. En dit is eintlik vreemd, want geen ouer wil tog as ’n kinderverwaarloser bekend staan nie – veral nie dié wat nooit ’n hand teen hul gelukkige en welgevoede en -geklede kinders sal lig nie.

Dalk moet ek die pad voorberei voor ek met die deur in die huis val deur te gaan soek na ’n definisie vir “kinderverwaarlosing”. Die Suid-Afrikaanse Kinderwet se taalgebruik is moeilik en formeel, maar die bedoeling van die wetgewer is duidelik:

Verwaarlosing word gedefinieer as “die versuim om in die uitvoering van ouerlike verantwoordelikhede voorsiening te maak vir die kind se basiese, fisiese, intellektuele, emosionele of maatskaplike behoeftes.” “Ouerlike verantwoordelikhede” sluit “om die kind te versorg” in. “Versorging” word baie deeglik in die definisies van die wet beskryf as, onder andere, die volgende: Die beskerming en bevordering van die welstand van die kind en beskerming van die kind teen enige ander fisiese gevaar.”

Nou gaan ek my oë styf toeknyp en die stelling maak. Kaalkop en sonder om mooi broodjies te bak:

Ouers wie se kinders nie vasgegord is terwyl hulle in ’n voertuig ry nie, is potensieël skuldig aan kinderverwaarlosing. En dalk selfs kindermishandeling.

Die volgende videogreep staaf my stelling verder:

In die videogreep is ’n man en vrou betrokke in ’n kop aan kop botsing. Alles is in plek: hul veiligheidsgordels is vas en die lugsakke ontplooi behoorlik. Tog is die trauma geweldig. Let op die vernietigende impak op die brein, nek, organe en ingewande.

Speel nou die video ’n paar grepe terug en kyk mooi: ’n glasbottel ontplof teen die voorste paneel; selfoonkomponente spat in duisende rigtings; die lipstiffie, sleutel en notaboek kom nooit agter dat die kar gestop het nie; ’n appel bars sappig teen die radio oop en die stukke vlieg die kar vol.

Verbeel jou nou wat met die los vierjarige dogtertjie op die agterste sitplek sou gebeur het. Of met die tienjarige seuntjie wat vooroor tussen die voorste sitplekke gesit en vrolik met sy ouers gesels het. Wat van die baba wat in haar drawiegie geslaap het? Of die kleuter voor op die ma se skoot?

Sou hulle ook soos die glasbottel, selfoon of appel deur die lug getrek en teen die paneelbord met geweld tot stilstand gekom het? Sou die ruit hulle kon keer? Of sou die spoed hulle deurgeslinger het tot op die pad?

Ek dink daar is net een moontlike antwoord.

Ons probeer ons kinders teen rowers, molesteerders, ontvoerders, uitbuiters, boelies, pedofiele en ander booshede beskerm. Waarom nie teen geweldige trauma en selfs dood tydens ’n motorongeluk – wat algemeen in Suid-Afrika voorkom – nie?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button