BlogsOpinionVryerige Vrydae

‘n Man soos my pa

'n Dogtertjie se verhouding met haar pa lê die hoeksteen vir haar romantiese verhoudings met mans. As ek maar net 'n man soos my pa kan kry, sal ek nie vir beter kan vra nie

Ek is ‘n prinses. ‘n Juweel. Ek is nooit te veel nie en ek is altyd genoeg. Vanwaar hierdie skielike selfversekerdheid? My pa.

Ek was hierdie afgelope naweek weer by my ouerhuis in die Wes-Transvaal en my pa het my opnuut laat besef dat ek geliefd is. Dat ek iets werd is.

Die bekende gesegde uit die rolprent The Help. Dit hang in my kombuis. Ons almal moet ons elke dag daaraan herinner.
Die bekende aanhaling uit die rolprent The Help. Dit hang in my kombuis. Ons almal moet ons elke dag daaraan herinner.

Hy het my op die hande gedra. Letterlik. Krukke en al. Hy soen sy kinders (en kleinkinders) nog elke aand “nag” en merk Sondagaand op: “nag my ou vlinder met die af-vlerkie”. ‘n Skoenlapper is mos ‘n mooi ding…

Ek is Dinsdag met die Citybug terug hier na die ooste en het ‘n Whatsapp gestuur om dankie te sê vir die lekker kuier. My pa se reply: “ai my kind jy maak vir ons almal die lewe soveel mooier baie lief vir jou”. Dit is woorde wat ek vir altyd sal koester.

Kenners sê ‘n dogtertjie se verhouding met haar pa is uiters belangrik en lê die hoeksteen vir haar toekomstige verhoudings met mans. ‘n Dogtertjie se verhouding met haar pa is gewoonlik die eerste wat sy met ‘n man aangaan. Dit vorm haar bewuste en onbewuste opvattings van wat sy kan verwag en wat aanvaarbaar is in ‘n romantiese maat.

My pa het drie dogters grootgemaak. Hy was ‘n generaal in die polisie en streng. (My ma was strenger). Hy het ons na die beste van sy vermoë probeer beskerm teen die lelik van die lewe, sonder om ons te versmoor. Hy het ons geleer dat ons as meisies vir niks of niemand hoef terug te staan nie. Dat ons enige iets kan doen wat ‘n man kan, dalk selfs beter. Ons is geleer om net die beste van onsself te verwag, ook van ons (toekomstige) mans.

Dit is van kleins af by ons ingedril dat dit onaanvaarbaar is vir ‘n man om aan ‘n vrou te slaan. Pappa het ons laat belowe dat ons hom sal sê as ons mans eendag aan ons slaan. Dan sou mamma ‘n pot olie warm maak en dit op hom gaan uitgooi en hom daarna met die pot oor die kop slaan.

Na een van my vorige mislukte verhoudings het ek teenoor my pa opgemerk dat dié eks se pa hom gewaarsku het dat ek “‘n willetjie van my eie het”. My pa het gelag en gesê: “nou my kind, van wanneer af is dit ‘n slegte ding?”

Ek en my pa in Amanzimtoti vroeër vanjaar.
Ek en my pa in Amanzimtoti vroeër vanjaar.

Jou mening as vrou, tel. Nee, jy as vrou hoef nie aan jou man onderdanig te wees nie. ‘n Verhouding is ‘n vennootskap – julle is mekaar se gelyke. Ons is geleer dat ‘n nagraadse kwalifikasie ononderhandelbaar is en dat jy vir jouself moet kan sorg. Dat jy moet streef om die hoogste pos moontlik in jou loopbaan te beklee.

Ek was maar ‘n ou koek op skool en het nie regtig gevry nie. My arme susters se ouens het egter kwaai deurgeloop. My pa het sommer vir ene Michael weggejaag toe dié hom groet met sy hande in sy broeksakke. Só is ons geleer om die standaard hóóg te stel. Jou man hoef nie sakke vol geld te verdien of die blinkste kar te ry nie. Respek vir jouself en vir ander en ‘n strewe na vooruitgang, is egter ‘n moét.

Soos wat ek die invloed van my pa in my lewe raaksien, besef ek al hoe meer die belangrikheid en/of invloed van alledaagse verhoudings op jou menswees. Hoe jy kollegas behandel, die man op straat, die kassier by die winkel, vriende… Jy kan met een enkele woord ‘n hart onherstelbaar wond, sonder dat jy dit besef of bedoel.

Leef liefde, geliefdes! Die liefde is immers vriendelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button