Vee voor jou eie deur voor jy klippe gooi
My punt is, niémand trou met die idee om te skei nie. Ons almal knoop verhoudings aan en trou met die beste bedoelings. Alle wingerde het klein jakkalsies wat hulle verniel. Ons almal is egter hoopvol dat, as ons genoeg gif gooi, die jakkalsies sal vrek

Die nasionale (Afrikaanse) nuusfront was Maandag en Dinsdag oorheers met die aankondiging dat die Blou Bul-liefling Derick Hougaard en die sangsensasie Karlien van Jaarsveld, se huweliksbootjie na slegs twee en ‘n half jaar, op die rotse is.
Dit was ‘n huwelik so reg uit ‘n sprokiesverhaal, uit Hollywood: ‘n sportheld wat met ‘n beeldskone sangeres afhaak. Veral na die rugbylegende Joost van der Westhuizen en Amor Vittone se weë só slordig geskei het, was die volk hoopvol dat Derick en Karlien se huwelik sou hou.
Helaas is hulle ook maar net mens, net vlees en – ek glo hulle beste pogings ten spyt – is hulle huwelik verby. Derick en Karlien se verhouding het van die begin af die wenkbroue laat lig. Dit was in 2012 maar ‘n maand voor hulle troue toe Karlien aankondig dat hulle die troue uitgestel het weens verskille wat hulle moes uitsorteer. Sy is aangehaal waar sy gesê het: “met die aanloop tot ons troudag het ons verskille gehad wat fataal is vir enige huwelik. Ek wil nie trou en dan skei nie. Dit moet vir ewig wees.” Die verlowing is kort daarna verbreek.
In Maart 2013 is hulle beplande bruilof wéér aangekondig en van Jaarsveld se ma en agent, Ronel Brink, het toe nog gesê: “die paartjie is 100% oortuig en het ontsaglike vrede in hul hart dat hulle nou die regte ding doen”.
Só is hulle getroud en twee pragtige tweelingseuntjies is gebore. Die glanspaartjie was hierdie jaar pal in die nuus. Karlien het op 19 weke hulle ongebore dogtertjie verloor wat hulle Evah sou noem. Derick het toetse ondergaan weens hoofpyne wat hom lam gelê het en Karlien het vroeër vandeesmaand Strictly Come Dancing gewen.
Weereens is Brink aangehaal waar sy sê dat dié danskompetisie “die beste ding was wat met Karlien en Derick se huwelik kon gebeur het”. Karlien self het vertel hoe Derick haar grootste motivering was en haar staande gehou het toe sy wou tou opgee tydens die uitmergelende oefensessies.

Dit is dus te verstane dat die breë publiek totaal stomgeslaan is deur die aankondiging dat hulle gaan skei. Ek is ook. Wat my egter meer verbaas laat, is mense se oordeel. Karlien en Derick se saak het nog nie eens in die skeihof gedraai nie, maar Karlien is deur die meerderheid van Netwerk24-gebruikers skuldig bevind en gevonnis, sonder dat hulle die feite ken.
Van die kommentare deur Netwerk24 gebruikers, sluit in:
• “Sy sê sy gaan tyd aan haar tweeling en man spandeer na Strictly Come Dancing! Nou dit! Derick vat die pad pel! Jy kan beter doen! Sien net om na jou twee kids!”
• “Al lankal gesê die twee gaan skei. Toe byt mense my kop af. Derick kom uit my wêreld. Hier is ons plat-op-die-aarde mense. Hy verlang na sy mense, hy het dit destyds in ‘n onderhoud gese. Ek stem saam, vat die pad Derick. Hou jou kop hoog. Kom weg van die snobs.”
• “Dis hoekom mense soos dié so simpel is, nes daardie vorige aanbieder van Boer Soek ‘n Vrou. Kamstig jouself vind, ensovoorts. Julle is só nie die voorbeeld waarna my kids moet streef nie! As die kykergetalle val, moet mens seker plan maak om onder die spotlight te bly. Ek stem, Derick, sy is nie jou standaard nie vriend. Sterkte vir jou!”
Dié mense wat hierdie uitsprake maak meen seker dat hulle vir Derick en Karlien ken. Hulle broei immers in ons sitkamers op die televisie, hulle stemme blêr oor klanksisteme se luidsprekers en hulle deel hulle daaglikse doen en late met ons op sosiale netwerke soos Instagram en Facebook.
Hierdie openbarings deur vermaaklikheidsterre is egter slegs ‘n oogknip van wat werklik in hulle lewens en binnekamers aangaan. Karlien word nou deur joernaliste gepols vir ‘n rede vir die verbrokkeling van die huwelik. En met goeie reg ook. Derick en Karlien is openbare figure en dit maak hulle huwelik en/of skeisaak, nuuswaardig.
Lesers vreet dit in elk gteval vir soetkoek op. Van die kommentare sluit in dat mense wil kots en dat Netwerk24 eerder op ander nuus moet fokus, maar tog “blaai” hulle nie om nie. Hulle gaan lees dit. Sluk gulsig aan die bekendes se lief en leed.
My ouers het hierdie jaar hul 41ste huweliksherdenking gevier. My ma het my vertel dat sy, selfs toe sy met die padjie afgestap het om my pa by die kansel te ontmoet, steeds getwyfel het of sy die regte ding doen deur met hom te trou. “Dis vreemd. Toe ek hom ontmoet het ek geweet dis my trouman, maar jy is nooit 100% seker jy doen die regte ding nie,” het sy opgemerk.
My punt is, niémand trou met die idee om te skei nie. Ons almal knoop verhoudings aan en trou met die beste bedoelings. Alle wingerde het klein jakkalsies wat hulle verniel. Ons almal is egter hoopvol dat, as ons genoeg gif gooi, die jakkalsies sal vrek.
Voor jy klippe gooi, vra jouself af: het jou verhouding ‘n gekullery oorleef? Die verlies aan ‘n ongebore baba? Mishandeling? Is jy sonder foute? Hou dan jou bek! Niemand weet werklik hoe sterk of swak die band tussen twee mense is nie, dikwels nie eens hulleself nie.
• Aanhalings deur Karlien en haar ma soos op Netwerk24 gepubliseer
