Blaai mens so deur vroeër uitgawes van Laevelder en sy voorganger sien mens dat skoonheidkompetiesies en die kroning van die mooistes nooit uitgebly het nie. Veral die mededinging as skoukoningin was groot en het saam met die oploop tot elke jaar se skou groot aandag geniet.
In 1976, net mooi 40 jaar gelede, het die plaaslike ring van die NG Kerk besluit genoeg is genoeg. Dit was in die tyd toe die flambojante Ted Osborne van Lowveld Sound and Music, opgetree het as aanbieder van die streekwye Mej. Laeveld-kompetisie.

Die NG Ring van Barberton het ‘n memorandum uitgereik onder die titel: Die Christen en skoonheidkompetisies. Hierin is gesê dat sulke geleenthede Christelik onverantwoordbaar is en om eties-godsdienstige redes ondubbelsinnig afgekeur moet word.
“Dit is deel van die proses waardeur die geestelike en sedelike weerbaarheid van die jeug afgetakel en vernietig word,” lui die voorblad van Die Laevelder op 23 Julie.
Die menings van bekende Laevelders wat in die koerant aangehaal is, was uiteenlopend: Mnr. Fanie de Kock sou beslis nie toelaat dat een van sy dogters deelneem nie. ‘n Huisvrou, me. G Kloos, het egter gevoel die goeie pryse wat gewen kon word maak dit die moeite werd vir ‘n meisie om in ‘n klein bikini op die stadsaal se verhoog te paradeer.
Me. N Myburgh was weer erg gekant. Mnr. HC Kosking het gesê hy is daarvoor mits die deelnemer ‘n sterk persoonlikheid het om die regte perspektief rondom sulke blootstelling te handhaaf. Mnr. Dave Venter, ‘n apteker van Nelspruit het gesê sulke kompetisies het algemene praktyk geword en hy sien niks daarmee verkeerd nie.
Ten spyte van die besware het die geleentheid daardie jaar voortgegaan. Glansaande waar uitdunne gehou is, is geadeverteer. Pryse ter waarde van R4 500 was op die spel. Dit was ondermeer ‘n vakansie vir twee in ‘n goeie hotel op Mauritius en ‘n Gomma Gomma-sitkamerstel van die plaaslike meubileerders Bronzin.
Op 13 Augustus berig Die Laevelder juis weer op die voorblad dat die semi-finale vir die kompetisie tydens ‘n aand met ‘n Mauritius-tema in die Nelspruitstadsaal gehou sou word. Kaartjies was beskikbaar.
Dis duidelik dat Die Laevelder van destyds hom nie deur die kerk laat voorskryf het nie. Op sy lentedaguitgawe van
3 September pronk daar drie Mej. Laeveld semi-finaliste in klein bikinis om die opening van die dorp se openbare swembad te vier. Dis onseker vir hoeveel jaar hierna die kompetisie nog gehou is. Miskien kan iemand nog onthou. Wie weet, moontlik woon een van die skoonhede wat destyds deelgeneem – of moontlik gekroon is, nog in die Laeveld en kan sy ons meer vertel. Kontak Marius in kantoorure by 013-7541600 of by mariusb@Lowvelder.co.za

