BlogsLocal newsNewsOpinion

Liesbet van die Laeveld – So, hoe weet jy dis ‘n krokodilmannetjie?

Jy vat nie die Laeveld se kragmanne flou nie. Veral nie oor hulle krokstories nie.

MALELANE-Nou is dit so dat ek ‘n paar Laeveld Crocodile Dundees al raakgeloop het, diep manne met die meedoënlose moed van voorgeslagte wat veel oorwin het en nie skaam is om hierdie DNA-poel te beproef daar waar natuurlegendes ‘n paar uitdagings aan stadsjapies bied nie en koladrankies met Klippies versterk is nie.

Ons bly nou mos immers hier waar manne nog reuse kan wees. Al is dit nou soms net in hul verbeelding.

“Dis mos leeuwêreld hierdie, Elize!” word ek gereeld gemaan as ek in ontsag my hande saamslaan oor sulke sterkmantoertjies. Die Laeveld het geen tekort aan helde in statuur en postuur nie. Die waarheid gelieg is ook ‘n redelike uitgangspunt wanneer ware verhale rondom ontmoetings met die Reuse Vyf uitgelig word. Hierdie manne speel nie rond met die Groot Vyf nie.

Verhale oor ‘n krok se kake wat tydens worstelings oopgesper is en reuse reptiele wat met ‘n enkele hou op die kop die asembenemende Laeveld-sonsondergange ingestuur is, word sonder enige aanmoediging rondom kampvure vertel. Grusame gevegte met luiperds word voor brekfis uitgeryg.

Selfs die verhale rondom die legendariese Jock van die Bosveld (alhoewel dit die Laeveld is), draai veel rondom sy geveg met ‘n bobbejaan en ‘n krokodil. Dié verhale is darem ietwat meer geloofwaardig as jy ‘n Staffie aan jou sy gehad het tydens ‘n paar noue ontkomings. Ounooi se skrik-vir-niks honde.

Toe ek dus die naweek tydens ‘n wildbesigtigingsrit teen skemertyd onder ‘n Laeveldhemel, koeëlgrys en swaar met dreigende onweerbeloftes, langs ‘n damwal sit neffe ‘n loodhoutboom se droogteskelet, en ‘n paar krokodille stap waggelend nader, het ek danksy die bangmaakstories van die kragmanne so ‘n terugflits na die haai-nagmerriefilm Jaws gekry.

Maar die geanimeerde meganiese haai is ‘n haasbekkie teen die kalante voor ons wat oopbek die aand sit en geniet. Seker oopbek om af te koel. Hoé sal ek nou weet?

Toe dié logge skubbe-reuse hul swaar lywe teësinnig oor ons lastige teenwoordigheid van die sand lig en stertswaaiend die donker poel water met ‘n plonsgeluid binneglip, kom die Crocodile Dundee in ons Jeep toe vinnig na vore. Ons moet net keer of hy klim uit en loop waar krokodilkoppe soos aanhalingstekens in ‘n sin net bo die water dryf en oë rooi en geel in die soeklig wys.

So oordapper soos ‘n Springbokvoorryman as Dwayne Vermeulen die agsteman is. Maar ek moet erken ons kon hom nogals maklik oortuig om nou eers maar te sit.

Hy ken darem sy krokkies: ouderdomme word uitgewys volgens lyfgroottes, kleure word uitgelê en selfs krokodilhormone word bespreek. Hy klink bykans soos ‘n vrou wat oor haar hormoonvervanging klets na ‘n besoek aan ‘n ginekoloog.

Storietjies en anekdotes oor krokodille uit sy verlede en vreesaanjaende ontmoetings uit sy arsenaal van vertellings word gedeel soos wat mans soms oor hul nagmerrie skoonma’s gesels.Hoe later, hoe kwater. Hoe later hoe groter die krokgebit.

En daar klap een krokodil wat oorlui nog op die sand lê, skielik sy oop bek toe dat dit soos ‘n geweerskoot tussen die girts-garts-geluide van die geelbek horingvoëls in die boom knal.

Dis toe dat Mnr.Koel-maar-toe-nie-so-kalm sy baadjie se kraag hoër opslaan en weer eens afsien van sy voorneme om vir ons te gaan wys op die jonger krokkie so vier meter van die veldvoertuig hoe mens vasstel watter geslag ‘n krokodil is.

Want sien daarvoor moet mens die kalant behendig op sy rug kan draai en sy gladgroen pensie van nader beskou. Sekerlik nou nie so alledaagse takie soos skeer of koffie maak nie.

Ons Laeveldse Crocodile Dundee maak toe so ewe weer verskoning oor die swak lig en so wat hom nou vanaand keer om ons tot Krokodil 101 in te wy en af te stap en gou-gou ‘n demonstrasie te gee. Dit nou ten spyte van sy uitgebreide ervaring.

Ek sê toe maar so ewe met die beste bedoedoelings, asof dit ooit vir die oordapper krokkenner ‘n troos sal wees, ek is seker daar is ‘n You Tube-tutorial hieroor. Ons kan dit kyk. Krokkie.com of so.

Ek het lanklaas iemand so niksbedoelend in die gesig gevat. Ek bedoel, die Laeveld se kragmanne weet immers wanneer is ‘n krokkie nie ‘n bakvissie nie…

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button