BlogsOpinion

Oor Kewers en oor die olifante van die Laeveld

Die viersitplekvoertuig was sedert 1951 vir 28 jaar op die SA mark beskikbaar.

MBOMBELA – Vir baie jare was die Duitse Volkswagen-kewer ‘n baie gewilde motor. Hier in die Laeveld was Alan Hudson Motors toe al die VW-agentskap wat die raserige tjorrie met sy kromrug, verkoop het.

Blaai mens deur ou Laevelders van die jare sestig sien ‘n mens die talle advertensies vir hierdie viersitplekvoertuig wat sedert 1951 vir 28 jaar op die Suid-Afrikaanse motormark beskikbaar was. Elf jaar hiervan as topverkoper.

1963 Volkswagen
In 1963 het so ‘n Volksie jou R1 315 uit die sak gejaag.

Ook die prys was redelik met ‘n verhoging van R1 056 in 1952 tot R1 395 teen 1966. Dit was ook ‘n taai klein ryding. In Die Laevelder van 24 April 1967 verskyn daar ook ‘n berig van ‘n Volksie waarvan die agterste deel van die dak deur ‘n olifant platgedruk is. Mnr. Pal Szabo van Walvisbaai is vergesel deur sy oom, ene dr. Steinbrenner, op besoek uit Duitsland. Op reis in die Nasionale Krugerwildtuin in die omgewing van Krokodilbrug-ruskamp het hulle angswekkende minute beleef toe die olifant hulle voertuigie toegetakel het.

Volkswagen 1961
Kyk hoe lekker sit so ‘n Volksie uit hierdie advertensie van 1961. Vier mense en ‘n klomp bagasie!

In die berig vertel hulle hoe daar stilgehou is om ‘n trop olifante af te neem. Na die olifant sy misnoeë getoon het, was die agterste helfte van die dak heeltemal platgedruk. Die bestuurder se deur wou ook nie meer toe nie en moes eers vasgebind word voordat hulle verder kon ry.
In Nelspruit aangekom, het die geduikte motortjie groot belangstelling uitgelok, lui die berig.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button