Party erken dit, party ontken dit, maar talle ongetroude vroue in Mbombela het dit al gesê.
Toe geselsies in die nuuskantoor onlangs weer so ‘n wending neem, het die instruksie gekom: skryf daaroor.
Kom ons begin met ‘n dringende waarskuwing. Is jy in die fleur van jou lewe en op pad hierheen om ‘n man te kry, ‘n lewe te bou en 2,5 kinders te hê?
So het ek self sowat vier jaar gelede Laeveld toe getrek. Ek onthou nog hoe ek my enkele besittings in ‘n Toyota Conquest gelaai het, my Laura Branigan CD aangesit het en die pad gevat het. Ek het op vleuels van opwinding en afwagting gevlieg – niks kon my keer nie.
My lewe was immers besig om te begin. Hier in Mbombela sou ek binnekort my ridder op sy wit perd ontmoet, trou en natuurlik vir ‘n rukkie ‘n beroepsvrou soos min wees. Ek sou skatryk word en na ‘n paar jaar by die werk bedank om na ons kindertjies om te sien.
Ek het eers gedink dit was net ek wat geen hubare mans in die stad kon sien nie.
Toe bespreek ek die effens vernederende onderwerp met ‘n paar vriende en vriendinne.
Lees: Skoonlief en vuilbaard – oor manlike chauvenisme
“Ja, ek het agtergekom die meisies kla so,” het een vriend gesê. “Shame. (shame nogal?!) Ek het al gedink ek wil die oulike meisies in Nelspruit aan van my vriende elders gaan voorstel,” het hy bygevoeg. Ja, hy is reeds gevat.
Ander enkellopende vroue het met my saamgestem: om ‘n man te kry met wie jy ‘n behoorlike gesprek kan voer, is hier baie moeiliker as op ander plekke.
Hoekom weet ek nie. Dalk kruip die ordentlike adonisse iewers weg.
Die mans wat ek hier ontmoet het, het oor karre gesels. Of motorfietse. Of hulleself.
Die wat ek by die kerk ontmoet het, maak elders asof hulle my nie ken nie. (Dalk moet dit introspeksie inspireer?)
Om iemand in ‘n kroeg te ontmoet word nie aanbeveel nie.
Lees ook: First 1000 days of life hold key to brain development
Een het beweer dat Barry Roux hom vir regsadvies genader het voordat hy die Oscar Pistorius saak aangepak het. Ek het daarna my rekening betaal en die pad gevat.
Elke vrou het iets wat haar erg afsit. Een vriendin kan nie vuil hande hanteer nie. As ‘n man se hande vuil is, verloor sy summier belangstelling.
Wanneer ek ‘n ketting sien, gebeur dit met my.
En die mans in Nelspruit hou van kettings. Goues, silweres en koperes. En grotes. “Wil jy die ding om jou fiets se speke kan sit?” wou ek al vra.

Vanoggend was ek op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. ‘n Groep mans het ‘n ent van my af gestaan. Die kettings was op hul ereplekke.
Die vier het hul waterbottels vasgehou en bo-oor hul biseps vir die wêreld gestaan en loer. Hulle het pas uit die gimnasium gestap.

Die motor waarin hulle daar weg is, het plakkers op gehad. Daar is eers goed gerev voor ‘n wolwefluit my ore bereik het.
Sug. “Regtig?!” het ek hardop gesê-vra.
Toe kom die reaksie op my Facebook plasing.
Net so terloops – Ruaan Reyneke tel nie. Hy bly in Johannesburg.
Nou ja. Wat dink jy? Het ek die kat aan die stert beet?








