
The Lowveld Leader, toe Die Laevelder en vandag se Laevelder, was nooit huiwerig om deeglike dekking aan plaaslike sportgebeure te gee nie. Hierdie was op die agterblad van 24 Julie 1970 – meer as 46 jaar gelede – toe die eerste en die tweede rugbyspanne van LVCC dié van die Nelspruit Rugbyklub goed opgedreun het. Gelaai met lekker aksiefoto’s het hierdie sportblad die vorige naweek se rugbygebeure op ‘n opwindende wyse weergegee, saam met berigte oor rolbal en tennis. Waaroor ‘n mens vandag veral wonder, is wie nog vir wie kan onthou en wie hom nog hier bevind. Ter uitkenning plaas ons hier die spanfoto’s en name van Nelspruit Rugbyklub se tweede en LVCC se eerste span van daardie jaar, soos dit in die koerant verskyn het. Sou jy iemand of dalk jouself herken – of weet wat van sommige van die manne geword het – kan jy aan ons skryf en vertel. Kontak ons by mariusb@lowvelder.co.za.



