Die skoolskoene van vergange jare
Lank nadat die res van die land nie meer by ‘n bekende kettingwinkel vir skoolskoene hul hoërskoolkinders se eerste paar skoolskoene kan kry nie, kan ma’s en pa’s nog instap by die winkel in die Laeveld wat hul grootste kompetisie was op ‘n straathoek wat eens in die besige stadskern van Nelspruit was.

As daar nou een ding is wat alle kinders uit die Laeveld op ‘n stadium in gemeen gehad het, was dit die aanpas en koop van ‘n paar nuwe skoolskoene by Edworks op die hoek van Anderson- en Voortrekkerstraat. Gelukkig was dit eers as ‘n mens hoërskool toe moes gaan. Hierdie hoek en die onmiddelike buurt was dan ook vir baie jare die besige sakekern van ou Nelspruit.

Dit is onseker presies watter jaar dié skoenetak hier geopen het, maar Edworks bestaan al sedert 1936 as die moedersmaatskappy en kleinhandel netwerk van Eddels-skoene, een van die oudste vervaardigers van mans- en vroueskoene in Suid Afrika en oor die jare veral skoolskoene. ‘n Engele militêre saal en skoenmaker, Charles Creed Whitfield Eddels het na die Anglo-Boereoorlog in 1902 in Suid-Afrika aangebly en kort daarna met ‘n skoenfabriek in Pietermaritzburg begin.
Ook op die hoek van Anderson- en Voortrekkestraat in Nelspruit was Edworks en net oorkant die kruising was sy grootste konkurent, Kelly’s Skoene. Kelly’s doen vandag nog daar sake maar Edworks se takke landwyd het almal verdwyn.

