Local newsNewsOpinion

KOMMENTAAR: Prosesse frustreer wildtuin-, besoedeling- en vleiland aktiviste

Omgewingsaktiviste, soos diegene wat rondom die KNW se Skukuza Safari Lodge of vleilande standpunt inneem, voel soms asof hulle grondwetlike regte oorgesien word.

Dit is ons grondwetlike reg om ‘n sê oor ons omgewing te hê, maar sluit die manier waarop dit gedoen kan word, dalk te veel van ons uit?

Sedert die inwerkingstelling van die grondwet in 1996 is die klem op die openbare deelnemingsproses gelê om individue en gemeenskappe ‘n stem te gee.

Met dié wet as kompas is die regering verplig om wette te maak wat juis sulke demokratiese besluitneming moontlik maak.

Die Handves van Regte gee – in afdelings soos Seksie 32 – die publiek byvoorbeeld die reg van toegang tot inligting.

Ook moedig die handves plaaslike en streeksregerings aan om dit maklik te maak vir die publiek om deel te neem.Hieromheen het wel ‘n spesifieke openbare deelnemingsproses tot stand gekom, maar werk dit doeltreffend om omgewingskwessies aan te spreek?

In Mbombela het ons ‘n ruk gelede vleilandaktiviste gehad wat gefrustreerd voor kennisgewings oor die proses gestaan het. Dit was onleesbaar omdat dit swak versorg was. Inligting oor ‘n omgewingsimpakstudie was aanvanklik ook nie beskikbaar nie.

Die Bergvlam-vleiland sal nooit weer dieselfde wees na die storting van bourommel nie.
Die Bergvlam-vleiland sal nooit weer dieselfde wees na die storting van bourommel nie.

Met die mees onlangse lugbesoedelings- voorval in Rocky Drift was dit duidelik, skoonlugaktiviste in die omgewing is ook moedeloos. Alhoewel daar ‘n proses is om hul griewe aan te spreek, het daar na vyf jaar van vergaderings bywoon en insette lewer, min van gekom.

Daar is ook Nasionale Krugerwildtuin-liefhebbers wat steeds besware het oor ‘n openbare deelnemingsproses rondom die hotel in Skukuza wat hulle voel deur die minister van omgewingsake gestoomroller is. Hoewel hul motiverings teen die bou van die hotel wetenskaplike gronde gehad het, het dit nie ‘n duit verskil gemaak nie.

Dalk is dit tyd om nuut te dink oor die werking van openbare deelnemingsprosesse.

Daar is minimum vereistes vir deelname aan prosesse oor die omgewing.

‘n Onafhanklike omgewingsinvloedpraktisyn moet dit bedryf.

Gesimuleerde voorstelle wat in 2014 deur die KNP voorgelê van die voorgestelde Safari Lodge in Skukuza. Mnr. William Mabasa, waarnemende hoof van kommunikasie van SANParke het aan Laevelder gister bevestig dat tenders reeds toegeken is vir die bou van die Skukuza Safari Lodge, dat die aanvangsdtum nog nie vasgestel is nie maar dat werk spoedig sal begin en dat die besteding uit SANParke begroting R220 miljoen sal beloop.
Gesimuleerde voorstelle wat in 2014 deur die KNP voorgelê is van die voorgestelde Safari Lodge in Skukuza. Mnr. William Mabasa, waarnemende hoof van kommunikasie van SANParke het aan Laevelder gister bevestig dat tenders reeds toegeken is vir die bou van die Skukuza Safari Lodge, dat die aanvangsdatum nog nie vasgestel is nie maar dat die projek spoedig sal begin en dat die besteding uit SANParke-begroting R220 miljoen sal beloop.

Hierdie persoon moet kennis en inligting rondom die kwessie aan alle moontlike belanghebbendes deurgee. ‘n Kennisgewingbord moet by opsigtelike plekke aangebring word om belanghebbendes in te lig.

Dit is ook belangrik dat dié partye moet weet waar verdere inligting oor die kwessie verkry kan word. Partye is verder geregtig om kommentaar te lewer en voorleggings te maak. Maar, ten spyte van die deeglike raamwerk, sukkel omgewingsaktiviste steeds om gehoor te word. Die proses is te omslagtig en sluit mense wat nie toegang tot bronne soos die internet en rekenaars het nie, uit. Ons kan dit nie langer bekostig nie.

Elke burger het regte, of dit nou oor ‘n vleiland in ‘n munispale gebied, lugbesoedeling, of die bestuur van ‘n nasionale park is. Dit is staats- of natuurbates en dus ons almal se domein en verantwoordelikheid.

Bogenoemde voorbeelde dien nie die gees van die grondwet nie.

Dit is dalk tyd vir ‘n proses om die deelnemingsproses te hersien.

Omgewingsaktiviste moet saamstaan om die boodskap duidelik oor te dra: Beplan sáám met ons, nie vír ons nie, en doen dit op ‘n verstaanbare en toeganklike manier.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button