BlogsOpinion

Spur video: Weet jou ma jy’s hier?

Niemand vra "waar het hierdie mense so leer optree?" nie.

 

As jy jou gesin Sondag na die Texamo Spur toe geneem het, was jou dag allesbehalwe rustig.

As jy nou nog met groot oë aan jou kos sit en verstik, is dit verstaanbaar.

‘n Man en vrou het mekaar in die restaurant getakel.

(Wees gewaarsku: die video krioel van die vloekwoorde.)

Ek het ‘n paar vrae.

  1. Wie is die kinders in die video en wie is die volwassenes?
  2. Kinders baklei. Ek veronderstel dat ‘n hou op die kop elke kind een of ander tyd tref. Waarom die boosdoener-kind se ouer stormloop?
  3. ‘n Mens sê nie “f*ck you!” nie. ‘n Mens skreeu dit ook nie. Het jou ma of onderwysers versuim om jou hierdie dinge te leer?
  4. ‘n Mens sê nie die p-woord nie. ‘n Mens skreeu dit ook nie. Weer eens: Het jou ma of onderwysers versuim om jou hierdie dinge te leer?
  5. Ongeskiktheid is nie noodwendig rassisme nie. Waarom iemand anders se gedrag so klassifiseer?

Dit is duidelik dat beide partye hoogs ontsteld was. ‘n Mens kan selfs bevraagteken of enigeen op daardie stadium rasioneel oor die saak gedink het.

Nogtans het iemand besluit om ‘n video van die voorval te neem en dit op die internet te laai.

Nogtans beklemtoon nuusverslae dat die vrou swart was en die man wit. Sosiale mediagebruikers deel die video met kommentaar wat rassehaat aanhits.

Die klem is nie op die feit dat beide onaanvaarbaar opgetree het nie.

Dit word ook nie gelê op die feit dat ‘n groot man ‘n tafel in die rigting van ‘n klein vrou gestamp het nie.

Niemand vra “waar het hierdie mense so leer optree?” nie.

Irrasionele, emosionele argumente het die plek ingeneem van ‘n eenvoudige vraag:

“Waar is jou maniere?”

(En ek wil byvoeg: “Weet jou ma jy’s hier?” As dit ek was, sou my ma my aan my grootmens-ore by die restaurant wou uitsleep. As ek nie 28 was nie, sou sy waarskynlik boonop die paplepel laat sing het.)

Ek wonder hoe kinders grootgemaak word. In ons strewe na die erkenning van menseregte het ons iets vergeet: die opneem van verantwoordelikhede is ‘n voorvereiste vir die erkenning van regte.

Deur verantwoordelikheid te neem vir ons optrede, erken ons outomaties mekaar se regte.

Dit gaan oor ‘n kopskuif: my prioriteit is om menswaardig op te tree, nie om daarop aanspraak te maak nie.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button