
Dit was 10 April, 1996.
Ek was sewe jaar oud en in graad een. Dit was my eerste dag op die netbalbaan. Ek onthou dat die netbalbal met klein plastiek knoppies oortrek was. My gesig onthou dit ook – die netbalbal het my kadwaf! in die gevreet getref.

Dit was die begin van die einde.
Teen 2000 is ek tot die skool se eerste hokkiespan toegelaat – ja, ‘toegelaat.’ Ons was minder as 20 dogters in grade vyf, ses en sewe en die afrigter het my uit simpatie uit laat deel voel van die span. My rol was dié van spanbestuurder en die ooreenkoms was dat ek dit nie op die baan sou waag nie.
Teen 2002 was die hokkieseisoen net so ‘n hopelose toestand. Iemand moes doelwagter speel en ons was net 11 dogters in graad sewe. Ek het dinge só beredeneer:
‘n Doel word aangeteken wanneer die bal die doelhok met ‘n knal tref. Dis dan vanselfsprekend dat ‘n bal wat die lyn voor die doelhok kruis, maar nie met ‘n gong-geluid die hok tref nie, veilig is vir my.

Geen gong geluid = geen doel.
Ons buurskool het my verkeerd vewys deur 23-0 te wen.

Dan was daar my onbeplande debuut as ontkleedanseres tydens die laerskoolrevue. Ek was 11 en – aanvanklik – as Elvis Presley geklee. Ouma Nine het ‘n Elvis-uitrusting aanmekaargestik wat skrik vir niks. ‘n Presley-krulkuif is met behulp van ‘n toiletrol op my kop geprakseer en ‘n silwer bandjielose bostuk het die nodige onder my baadjie bedek.”
One for the money, two for the shoes, three to get ready…” het ek gebulder dat die hele dorp my kon hoor. “Blue suede shoes” het geëindig met die baadjie wat doer waai. Dis toe dat ek besef het dat die bostuk om my heupe gaan sit het.
So het dit aangegaan – dwarsdeur my skool- en universiteitsloopbane. Toe dit tyd word vir my om ‘n bestuurslisensie te bekom, het Oom Pottie van die bestuurskool my na die soveelste les weggejaag. “As jy terugkom, is dit met ‘n automatic! Jy’t nie die kop vir ‘n ratkar nie,” het hy laat hoor. Ek sou nog R10 250 aan bestuurslesse bestee voordat ek uiteindelik toegelaat is om te bestuur – met ‘n outomatiese kar, natuurlik.
Terwyl ek vroeër vanjaar in Pretoria was, het my einste outomatiese motorkar, Rooies, sy moses teëgekom. Hoe dit gebeur het kan ek tot vandag toe nie sê nie. ‘n Kar het uit die niet voor my verskyn en Rooies se neus vir goed geamputeer. Die besef dat ‘n mens se lewe in gevaar is, tref jou binne ‘n millisekond, maar tyd staan vir daardie oomblik stil. Ek het ‘n vreemde vrede ervaar – so asof dit die einde sou wees van my bestaan as ‘n ongeluksvoël.

Toe nou nie. Die kar is herstel en die admin daaraan verbonde het my byna mal gemaak. Die versekering het uitbetaal en ek het ‘n nuwe ryding aangeskaf waarmee ek terug is Mbombela toe.
Kort voor lank het die noodlot my weer ‘n streep getrek.
Dit was 16 Augustus en ek was besig om my dieët se reëls te oortree – die uwe was snoepie toe. Op pad terug het ek van die trappe af geval.

Natuurlik het ek op my kop geval.

Ek sou gou leer dat harsingskudding sy voordele het. Toe die paramedici vir my vra: “Wie is Zuma?” het ek glo geen idee gehad nie.
Ek is ondersoek en hospitaal toe geneem. My kollegas het natuurlik elke oomblik op film vasgelê.

My elmboog en gewrigte was beseer en ek het aan geheueverlies gely. Die geheueverlies het vir dae aangehou voordat ek stuk vir stuk weer begin gesond word het.
Dit is nou drie weke later en ek kan maar net glimlag – die noodlot fop my gereeld. Dieselfde noodlot sien toe dat ek nie omkom nie, maar leef om die gevolge van die lewe se truuks te dra.
Is ek ‘n ongeluksvoël? Nee.
Ek is iemand met wie vreemde dinge oor en oor gebeur. As jy my vra, sweer karma en Murphy saam teen my.
Wat hierdie dinge my geleer het, is veerkragtigheid (resilience.) Daar is geen probleem wat ek nie kan oplos nie en geen penarie waaruit ek myself nie kan wikkel nie. So ook kan geen terugslag my onder kry nie. Ek is te gewoond daaraan om die slegte te oorkom.
Cheers! Op die goeie wat selfs uit die slegste situasies voortspruit. En op lewensvaardighede wat uitdagings ons leer.


