
Op ‘n onlangse kuier in die dorp het ek my bloediglik vererg toe my vriendin my aan ‘n vriend van haar vriend voorstel.
Ek steek toe my hand uit met die gebruiklike: “Arisa, aangenaam.”
Die vent gee toe sy naam, maar weier om van my hand te laat gaan. Hy trek my nader en sê: “Ek wil net sê jy’s beutiful (uitgespreek beu-ri-voel).”
READ ALSO: Klink ‘n glasie op Marlothpark
Ek lag toe maar ongemaklik en stap maar weg. In retrospek het ek besef dat ek heel anders moes reageer. Net omdat hy dalk sterker as ek is, beteken nie hy kan my gryp nie en ‘n dronk beu-ri-voel is ook nie regtig ‘n kompliment nie.
Toe ek hierdie storie met my vriendinne deel is hulle ook ewe ontsteld.

Ons deel stories van arrogante mans wat luidkeels skreeu as mens verbystap en die irriterende “Hey babe, lekker en jy?” Ek is nie ‘n troetelvark in ‘n kinderfliek nie.
Nee.
Nog een: “Gooi hom, bokka.” Lyk dit vir jou of ek hande viervoet staan en gras eet?
Nee.
Dan, die pièce de résistance, “Hoe lyk dit, pop?” Ek is nie plastiek nie en ek sit beslis nie heeldag op die rak en wag dat jy my moet kies nie.
NEE.

Soms word hierdie “troetelnaampies” seker goed bedoel, maar asb man, dink tog net voordat jy gil. Vroue is soveel meer as wat die samelewing dink ons is.
Want kom ons wees eerlik, hoe sal ‘n man voel as ek na hom toe loop en sê: “Hoe gaan dit, tiny?”
LEES OOK: Die ystervroue om ons
