BlogsOpinion

Net nog 103 daggies tot Kersfees

Die feesseisoen kom al hoe nader.

Kersfees is loshande my gunstelingdag van die jaar. Die liggies, die geskenke en al die versierings maak my so gelukkig soos ‘n kind in ‘n speelgoedwinkel.

Gister het van my kollegas hier in die Laevelder-kantoor begin om Kersliedjies te neurie en vandag het ons amptelik begin om die dae af te tel – 103!

‘n Ander kreatiewe kollega het hierdie skets gemaak wat ons help om die dae af te tel.

Saam met Kerfees kom daar ook sekere tradisies. Weke voor die tyd staan ek en my ma gewoonlik een dag dou voor dag op om soetkoekies te bak – my ouma se resep, natuurlik!

Dan kan ek ook nie Kersfees vier sonder om my gunsteling-Kersfliek, Dr. Seuss’ How The Grinch Stole Christmas, te kyk nie. Ek kan met trots sê dat ek elke woord ken en met elke liedjie kan saamsing.

LEES OOK: Verkeersirkels, voëls en ander v-woorde

Meer nog bring Kersfees ons familie bymekaar. Ek dink aan ‘n warm Kersfees in my kindertyd toe ons hele familie klere en al in ‘n klein opblaasswembad gesit het vir verligting. Ek dink ook aan ‘n Kersfees wat my ouma vroeg opgestaan het om vir my ‘n brief in die posbus te gaan sit – sy het geweet ek is mal daaroor om briewe te ontvang en ek koester dit tot vandag.

Ek onthou geskenke oopmaak op my ouers se bed en dan regmaak vir kerk sodat ons die ware betekenis van die dag kan vier.

En dan – die Kersfeesvleise. Soos die bedorwe brokkie wat ek is, weier ek om Kersdag te vier sonder ten minste agt (ja, agt!) Kersfeesvleise. En tussen al die niggies en nefies en as die feit in ag geneem word dat Kersfees gewoonlik oor meer as een dag strek, kan ek sê dat daar nooit een krieseltjie oorbly nie.

LEES OOK: 10 dinge wat my bloed laat borrel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button