
Laevelder het verlede week berig oor Jeanne-Mari Viviers, ‘n siggestremde wat vele uitdagings in die dorp beleef. Dit het ingesluit dat sy nie saam met haar gidshond in sommige restaurante en winkelsentrums in Mbombela toegelaat word nie en dit terwyl sy afhanklik is van Ebba. Sy sukkel ook om take te vermag soos om by kitsbanke geld te trek en met die digitale knoppies op wasmasjiene te werk. Die koerant het die volgende briewe ontvang.

Danie van Gass skryf:
Ek was in Mbombela vir 46 jaar en het Kaapstad toe getrek in 2012. Ek het die berig gelees van Jeanne-Mari. Baie sad. Ons was onlangs in Paternoster en ‘n skoolvriend van my van Komatipoort het ‘n restaurant daar en hy het gesê dit moet pet-friendly wees. Dalk is dit tyd vir verandering vir sommige restaurante in Mbombela.
Carel Haefele skryf:
Ons almal trek geld op ‘n gereelde basis en doen wasgoed sonder om eens twee keer daaraan te dink. Sal baie interessant wees om van die banke te hoor wat hulle in plek het om mense met swak of geen sig by te staan. Ons almal betaal bankkostes so almal moet van die diens gebruik kan maak, sonder uitsondering.
