Gister het ek die voorreg gehad om tyd saam met die finaliste van Miss and Mister Deaf World and Europe and Asia te spandeer.
As ‘n joernalis het kommunikasie my uiteraard nog altyd gefassineer. Wat mense sê, hoe hulle dit sê en ook wat hul lywe sê wanneer hulle sê wat hulle sê.
Maar die “sê” sonder woorde wat ek gister teëgekom het, het my totaal oorweldig.
Uit die aard van die saak is elkeen van die finaliste gehoorgestremd. ‘n Mens besef dit egter nie werklik totdat jy met een van hulle moet gesels nie.
So kom ek toe gister daar aan gewapen met die vraag: “Wat dink julle van Suid-Afrika?”. Die hele taak was werklik makliker gesê as gedaan.
Daar is 11 lande by die kompetisie betrokke wat elkeen ‘n ander taal praat. Gebaretaal is net 80 persent universeel. Jy sien die probleem.
LEES OOK: Niks verloop volgens plan nie…
Ek beland toe saam met hooftolk Ronel Maree wat my help om met die deelnemers te kommunikeer. Met sommige gesprekke kos dit egter nog ‘n tolk.
So gaan die gesprek toe: ek vra die vraag aan Maree in Afrikaans. Sy vertaal dit na Engels en tolk dit in Engelse Suid-Afrikaanse gebaretaal na mejuffrou Israel. Dié tolk dit in Amerikaanse gebaretaal aan mejuffrou Thailand. Sy gee die antwoord aan mejuffrou Israel, wat dit aan Maree gee en dan kry ek my antwoord.
Deurmekaar? Ek was ook. Naderhand raak ‘n mens dit egter gewoond daaraan en dan gesels julle soos ou vriende.
Gaan verbreed jou horisonne gerus en jy sal vinnig besef ‘n mens kan enige kommunikasiegaping oorkom.
LEES OOK: As die Laeveldgriepverkoue jou eers beet het
- Moenie die kroningsgeleentheid môreaand misloop nie. Die geleentheid vind by Communio Kerk plaas en kostes beloop R150 per persoon. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro of by die deur.
