Liewe Narda, dit is hoe jou jaar verloop het
2019 Was niks minder as ‘n goed-georganiseerde nagmerrie nie.

Ek oordryf glad nie. Dit was verseker nie my jaar nie. Op my 37ste verjaarsdag haas ek my na die mediese sentrum; Good news: Jy het Waterpokkies!
Wie op dees aarde kry waterpokkies op 37? Op jou verjaarsdag? Wel, ek. Vandaar het dinge net vererger. Glo my nie? Kom ek gee ‘n paar voorbeelde:
My dogtertjie is in Graad 1 en soos wat dit nou maar gaan, is daar luise. Vet, vieslike, skarrelende luise. Sy kry luise, ek kry luise. Ja, op 37 kry ek luise. Fantasties.
So neuk die jaar aan met meer ongeluk as geluk. “Haai Narda, jy het nog nie genoeg gehad nie, hier is vir jou ‘n veluitslag en saam met dit gee ons jou ‘n gratis maagvirus.” Te mooi.
Die een dag gaan laai ek my dogter by die klas af. “Tannie lyk mooi,” se een van die dogtertjies. My ego kry effens van ‘n hupstoot na die waterpokkies, luise, veluitslag en virus.
Ek kom terug by die kantoor. Dit pong. Iewers is iets dood. Vrot dood. Ek soek onder die tafel, onder my kollegas se tafel. Niks. Sodra ek op my stoel sit, spoel die vrot reuk oor my soos Durban se onlangse Tsunami. Ek sien niks.
Ek bekyk my skoene van hoek tot kant. Ons het ‘n St Bernard en daai ding bol ‘n ding raak. Niks. Geen poef aan my hakskoene. Dis ek! Ek dink ek stink!
Nou raak ek bekommerd. Ek moet oor ‘n uur my kind gaan haal en ek ruik soos vrot eier. Nou gaan die einste kind vir my sê ek stink. Paniek slaan oor my uit. Wat de hel stink so?
Maak my handsak oop en ek gooi so bietjie-bietjie in my mond op. My dogter het ‘n stinkbom by die plaasfees gekoop en die ding in my handsak gesit. Intussen het die verdomde ding gebreek. Alles is vol stinkbom. My parfuum, my foon, my lip-ice, my beursie en nou ook my hande.
Ek smyt die ding eenkant in die hoek en gaan skrop my in die werk se badkamer. Spuit sommer toiletsproei aan my. Wie sal tog weet? Nogal Rose-scented ook! Beter.
Ons beplan al jare aan ‘n vakansie oorsee. Nogals Amerika, na Disney Land. Alles is gekoop, vlugte is geboek, hotelle is betaal. Ons moet net daar kom.
Nou ja. Nuusflits: SAL staak. Uitstekend. Nou is ons in ons maai. Gelukkig net vir so week toe droog die stakers se geld op.
Die laaste week van werk is effe beter. Ek dink 2019 het sy agterent gesien. Ek vermy enige nommer wat ‘n 19 bevat van nou af. Kry ‘n Take-A lot bestelnommer vir my tas: Nommer 1025419. Kanselleer summier. Nuwe nommer. Aflewering binne twee dae. Fantasties.
As daar nou een jaar was wat my gehaat het vir een of ander rede was dit die een. Vieslike jaar. Mag ons die jaar vaarwel roep met geen groot bohaai nie. Ek gaan hom net so saggies in sy maai in stuur…
