
Herfs en winter sover was baie droog in die Hazyview omgewing. Voor die eerste koue in Junie was die dae ook lekker warm. Dit lyk of die droë, warm weer die biologiese ritme van sekere plante versteur het.
Bome wat aan die einde van die winter of in die lente behoort te blom, is besig om blomme te vorm! Ook die bosveld boom- orgidee het besluit dis tyd om te blom. In die dorre veld sien mens plek- plek n blommetjie aan kiaat (Pterocarpus angolensis), laeveld kastaiing (Sterculia murex) en dikbas (Lannea discolor). Gelukkig gebeur dit net hier en daar en die blomvorming is maar halfhartig, anders moes mens dalk bekommerd geraak het!
Ons het wel heelwat bome wat in die winter blom, soos die koraalboom (Erythrina lysistemon), Natal gwarrie (Euclea natalensis), gewone haakdoring (Acacia caffra), gemmerbos (Tetradenia riparia), en meeste aalwyn soorte. Verskeie bittertee (Vernonia) soorte blom nou langs ons paaie met groot trosse wat wissel van wit tot ligpers.
Die droogte maak dit darrem makliker om voëls raak te sien, veral as daar ‘n partytjie is! Voëlkykers gebruik die term ‘bird party’ vir die interessante gedrag waar verskillende voëlsoorte los groepe vorm wanneer hulle kos soek. Jou tuin kan een oomblik doodstil wees en binne minute wemel van voëls en geluide. Insekvreters soos laksmanne, tiptolle, houtkappers, suikerbekkies, glasogies, wewers, tinkers, vlieëvangers en kleinjantjies is by hierdie partytjie waar almal welkom is! Al geselsende en soekende trek die gemengde groep deur die bos, en netnou is alles weer stil.