Span veg tot die bitter einde toe
Volgens Du Toit was die spelers heeltyd geesdriftig en het hulle hul harte uitgespeel en deurgedruk tot die eindfluitjie geblaas het
“Afgesien van die verloor, is ons steeds trots op ons spelers,” sê Quartus du Toit, medeafrigter van Ohrigstad Rugbyklub nadat die span verlede naweek teen die Impalas van Komatipoort in die Mpumalanga Laeveld-rugbyliga vasgeval het.
Na ‘n harde wedstryd het die Impalas met 25-10 geseëvier. Volgens Du Toit was die spelers heeltyd geesdriftig en het hulle hul harte uitgespeel en deurgedruk tot die eindfluitjie geblaas het.
“Gedurende die tweede helfte is ons met beserings geteister. Losskakel Martin van den Berg is met ‘n liesbesering van die veld af, vleuel Eben Blignaut het harsingskudding opgedoen en hy en Edward Latsky, agsteman wat sy ribbes gekneus het, moes ook afgaan.
“Weens die beserings het die hele bank die geleentheid gekry om te speel. Ons doodsteek was toe Komatipoort in die doodsnikke van die wedstryd vir ‘n drie oorgeval het,” meen Du Toit.
Vir Ohrigstad het WK de Jonge ‘n drie gedruk wat deur Juan van Zyl verdoel is. Martin van den Berg het met ‘n strafskop geslaag.
