Jimmy Stonehouse en kie kuier in Rusland
Jimmy Stonehouse en Marius van Rensburg het 'n bietjie ondersoek gaan instel na die speeloppervlaktes wat hulle in dié land gebruik.
Die hoofbreier van die Airlink Pumas, Jimmy Stonehouse, en hoof- uitvoerende beampte, Marius van Rensburg, het verlede week op ’n vlug na Rusland geklim.
“Werk, werk, werk. Ons wou graag World Cup toe, nou gaan ons maar Rusland toe!” het Stonehouse op 7 September in ’n Facebook-plasing geskryf.
Hy en Van Rensburg is oor die waters om nuwe opsies vir oppervlaktes vir hulle gimnasium te gaan ondersoek.
“Ons het na binnenshuise oppervlaktes vir die gimnasium en ’n tipe van speelveld wat ons binne kan ontwikkel, kom kyk.”
Maar alles in die lewe kos geld, en weer eens speel dit hier ook ’n groot rol.
“As ons iemand kan kry wat ons kan borg, dan sal ons graag wil kyk na so iets soos wat hulle hierso het. Dit maak dit makliker met sekere van ons oefeninge,” vertel Stonehouse verder.
LEES OOK: Sports stars honoured at the Mpumalanga Sports Awards
So gepraat van borge, die Pumas het ook onlangs die hoofborg vir die eerste Airlink-beker, wat op 4 November in Welkom afskop, aangekondig. Die vervaardigingsmaatskappy SPS gaan dié toernooi, wat die Windhoek Draught Griguas, NovaVit Griffons, die Luiperds en natuurlik die Airlink Pumas insluit, borg.
Die Airlink-beker vind by vier verskillende venues plaas, waarvan die eindstryde op 2 Desember by Mbombela Stadion beslis sal word.
Elke borg wat by die Airlink Pumas is, word waardeer. Ongeag hóé groot of klein. Sonder finansiële ondersteuning sal die span en unie se vooruitgang nie moontlik wees nie.
Diegene wat egter nog betrokke wil raak, kan met Stonehouse in verbinding tree.
“Ons kan ’n lekker pad saam stap. Dis goeie blootstelling, dis goed vir die Laeveld. Kom ons skep saam iets wat vir die unie en vir ons dorp iets kan beteken.”













































