SterStatus top 20 vir dié Laevelder
Na talle werkswinkels en gepaardgaande uitdagings om die deelnemers in verskillende areas van die vermaaklikheids bedryf te beproef, is die top 20 onlangs aangekondig.
Die Afrikaanse vermaaklikheids- en realiteitsreeks SterStatus se vyfde seisoen het in Julie afgeskop.
‘n Laevelder, Leandri Bester, is sedertdien week na week ‘n gereelde gas op die kykers se kassies, en gaan ook vir nog so ‘n rukkie langer daar wees.
Sy is tydens die vyfde episode as een van die top 20 finaliste aangewys.
“Ek kan dit self nog nie glo nie, en soms voel dit vir my nog onwerklik, maar ek is ongelooflik dankbaar vir die geleentheid,” het Bester ná dié aankondiging vertel.
“Ek het dit glad nie verwag nie. Ons was oor die 200 meisies, en nou is ons net 20 oor.”
In ‘n vroeër onderhoud met Bester het sy aan Laevelder vertel dat sy graag haar platform op SterStatus wil gebruik om ‘n motiveringspreker, aanbieder, seremoniemeester en aktrise te word, en om ander vroue te help om hul drome te verwesenlik.
LEES OOK: Colours and lights glow on Rhinos Indoor Sports Club at Mbombela Stadium
SterStatus meen hulle beywer hulself juis vir vrouebemagtiging.
“SterStatus is ‘n kompetisie om jong dames in die vermaaklikheidsbedryf van Suid-Afrika te bemagtig,” het Bester destyds aan die publikasie gesê.
Die top 20 is sedert hulle aankondiging by die radiostasie, GrootFm 90.5, se kantore verwelkom, en moes op hul tone dink tydens hul beurt op die lug. In die jongste episode het die finaliste voor die beoordelaars en kameraspan hul toneelspel beproef. Die doel van die uitdaging was om te sien hoe die vroue hulself in ‘n verskeidenheid van scenario’s gedra en ook om hulle unieke persoonlikhede na vore te laat kom.
LEES OOK: Mpumalanga and Limpopo equestrians celebrate Uplands Equestrian Centre Spring Groove Festival
“Ek het só baie geleer as ’n SterStatus-finalis. Ons het verskeie werkswinkels bygewoon om ons die nodige vaardighede te leer om ’n SterStatus-wenner te wees. Ek kan hierdie vaardighede daagliks in my lewe gebruik en ander ook daarmee inspireer. My visie is om jong meisies selfvertroue te leer en om hulle en ander vroue te help wat sulke vaardighede kortskiet. Mens is nooit te oud om iets by te leer nie!” sê sy.
Die Laeveld kan sy eie Bester en die ander deelnemers se reis na roem volg deur die SterStatus se YouTube-kanaal te besoek.
Die wenner van seisoen vyf word op 14 Oktober by SterSatus se gala-aand in Rustenburg aangewys.
