Nellies deur na halfeindstryd
Hoërskool Nelspruit het Hoërskool Monument in 'n riller-kwarteindstryd van die Beeldtrofee Saterdag op eersgenoemde se tuisveld met 25-23 getroef.

Die breier van die tuisspan, Gerhard Holtzhausen, was die oggend baie bekommerd oor sy kaptein en SA Skolespeler, Conraad Janse van Vuuren en sy ysterflank, Daniel Maartens wat dalk die skouspel weens griep sou misloop. Jaco Vosloo, Bendré Herholdt en Kabous Engelbrecht moes weens verkoue langs die veld sit.
Die losskakel van die besoekers, Gerdus van der Walt het sy skopskoene in
Krugersdorp vergeet, en met ‘n hele paar skoppe na die pale verbrou. Hulle het
‘n senuagtige Nelspruit-span tot baie foute gedwing om teen rustyd 13-3 voor te
loop.
Nellies, of die sogenaamde Rhinos se Jesse du Toit, heelagter, het ook
‘n paar maklike skoppe voor die pale gemis. Nellies het gesukkel om aan die
gang te kom, maar Maartens het by menige geleenthede omgekeerde balbesit gewen en met sy blitsvoete deur ‘n hele paar gapings gebreek. Die tweede helfte het skaars afgeskop toe die tuisspan se Waldo Putter vir ‘n drie oorgeduik en
verdoel het. Hulle het op die voorvoet gebly.
“As jy glo jy is die beste, dan sal jy die beste wees. Ons het rustyd in die kleedkamers nie baie gepraat nie. Ons het net gesê dat ons by dit waaraan ons hard gewerk het, moet bly,” het Janse van Vuuren, die kaptein, na afloop van die wedstryd gesê.
Met dié drie van Nelspruit, het Monument se Armand Grobler in die 54ste minuut geantwoord om nóg punte vir sy span op die telbord aan te teken met ‘n drie onder die pale. Van der Walt het die skop verbrou.
Die giftige agterlyn van die wenspan het die wedstryd oorheers met die vleuel, George Muller wat in die hoekvlag gedruk het.
Dit was hier waar hulle momentum gekry het om Monument se
doppie finaal te klink. Die kookwater-agsteman, Menzi Nhlabati, het nóg vyf
punte aangeteken. Monument het ‘n gedwonge fout in hulle kwartgebied begaan en ‘n strafskop is aan Nelspruit toegeken. Monnas se Grobler het kort voor die
eindfluitjie vir sy tweede drie van die wedstryd oorgeduik.
Die teenstanders het met hul laaste asem teruggeveg, maar dit was net nie genoeg nie. Nhlabati is as die speler van die wedstryd aangekondig. Die Nelspruiters gaan Saterdag 17 Augustus in die halfeindstryd van die gesogte Beeldtrofee teen Dr. EG Jansen in ‘n wegstryd speel. “Die kaptein het van die begin van die rugbyseisoen af ‘n groot invloed op die manne gehad. Ons sal oor twee weke ‘n volspan EG Jansen toe neem,” het Holtzhausen gesê.
Die Rhinos se o/15’s het 15-5 teen Monument vasgeval. Monnas het die tuisspan van die veld af geskrum. Die besoekers se afrigter, Frikkie Spangenberg was na afloop van die wedstryd met sy span se skrumwerk beïndruk. “Ons sal aan ons aanvalle moet aandag gee asook kleiner aspekte van ons spel.”
Die o/16’s van Nelspruit het óók hul wedstryd teen Monnas met 13-0 verloor. Ten spyte van ‘n swak begin van Monument se kant af, het hulle aan die einde van die dag die wen in hul sakke gesteek.
“Die grondslag is deur die losvoorspelers CJ Botes, Len Massyn, Thomas Meyer en
Henro Liebenberg gelê. “Ons sal dringend aandag aan ons hanteerwerk moet
gee,” het die afrigter van Monument, Rinus de Jager gesê.
