Pumas slaggereed vir stryd teen Luiperds
Na 10 Curriebeker Eersteliga-wedstryde is die Steval Pumas behoorlik op dreef om gasheer vir 'n tuis-semifinale te speel.

Jimmy Stonehouse se manne staan op 47 ligapunte met die naaste span op die ranglys, die SWD Arende op 34, gevolg deur die OP Kings op 33.
Die Kings, wat hulle Superrugby-spelers terug in die groep het, is stadig maar seker besig om die punteleer te bestyg, en hoop om tweede vir die uitspeelwedstryde te eindig.
Maar die Pumabreier het die week sy spankeuse tot op die laaste uitgestel weens die spandokter se kommer oor twee spelers. Rosco Speckman het ‘n heupbesering en Wilmaure Louw ‘n knie wat pla.
Gelukkig sal dit nie vir Stonehouse te moeilik wees om die twee manne te vervang
nie, want JW Bell en Jerome Pretorius het al vroeër die seisoen bewys dat hulle
nie vir die interne kompetisie in die begin-vyftiental terugstaan nie. Corné Steenkamp is weer slaggereed en sal die kapteinskap by Eduan van der Walt
oorneem.
Vrydag sal die manne in pienk om 19:00 teen die Luiperds uitdraf. Die gedugte pak van Potchefstroom het vroeër in die seisoen die Pumas se kaarte byna deurmekaar gekrap met onverbeterde spel, maar dit was die deursettingsvermoë en wil om te wen wat die Pumas al soveel keer die seisoen die wedstryd laat deurhaak het.
“Ons het die week hard gewerk en ek glo die manne sal hulle kant bring. Elke wedstryd word op sy eie meriete aangepak en ons sal Vrydagaand graag weer vyf punte uit die wedstryd wil neem,” noem Stonehouse.
In twee voorwedstryde sal die o/19- en o/21-Pumaspanne om 14:30 en 16:30 die rugbygees op Mbombela Stadion inwy. Kaartjies is by die stadion asook by alle Computicketkantore beskikbaar.
