Tennismarathon word as fondsinsamelingsprojek gehou
Twaalf ure se afslane, rughoue, voorhandhoue en vinnige voetwerk is hoe Nellies Klub 1 000 beplan om fondse in te samel.

NELSPRUIT – Die klub – Hoërskool Nelspruit (NHS) se ondersteunersklub – bied 7 September ‘n tennismarathon as fondsinsamelingsprojek by dié skool se tennisbane aan.
Alle fondse wat ingesamel word, sal vir die opgradering van NHS se sekuriteitsisteem aangewend word.
“Daar gaan musiek, verversings en hope Nellie-guts wees,” vertel die tennismarathon-koördineerder, dr. Jacob van Zyl. “Hierdie is ’n unieke geleentheid waarin tennis ingespan word om ’n groter doel, naamlik die fondsinsameling, te dien. Die marathon kan goed vir tennis sowel as die skool wees,” meen hy.
Skoolhoof, dr. Louis Swanepoel is dit eens dat hierdie ’n unieke geleentheid is om die gemeenskap in belang van die kinders se veiligheid saam te snoer. “Die gesellige samesyn en reëlings betrek talle lede van die ouergemeenskap, asook leerkragte wat hul gewig by hierdie gewaardeerde projek gaan ingooi.”
“Hierdie projek kan slegs suksesvol aangebied word, indien daar op die ondersteuning van besighede staatgemaak kan word,” verduidelik NHS se woordvoerder, me. Liezl van der Linde. Borgskappe: Dr. Jacob van Zyl, mnr.
Riaan van der Spuy, of die Nellies Klub 1 000-kantoor. Die marathon skop om
08:00 af. Navrae: Dr. Jacob van Zyl by 013-752-2000, mnr. Riaan van der Spuy
by 083-310-7497, of Nellies Klub 1 000 by 013-752-1911.
