Anja! Jou stêr!
Die hokkie-eindstryd vir laerskole tussen Komatipoort en Nelspruit in die Ehlanzeni-distrik was ’n naelbytstryd.

Dit het Maandag by LVCC se sportvelde plaasgevind. Agt skole in die Laeveld het deelgeneem om as kampioene gekroon te word. Die verdedigende kampioene, Komatipoort se o/13-dogters het in die uitspele teen Nelspruit verloor. Anja Swart het die wendoel aangeteken.
Die o/12-seuns van Laerskool Witrivier was verlede jaar die wenners, maar het teen Laerskool Lydenburg vasgeval.
Die o/11- tot o/13-spanne het deurgedring na die top-10-hokkieskole van Mpumalanga se kampioenskappe wat 6 en 7 September in Middelburg plaasvind.
Die o/10- en o/11-seuns van Uplands het uitstekend gevaar. Die o/10’s het 1-0 teen Witrivier gewen waar die o/11’s Nelspruit met 2-0 geklop het. Lydenburg se o/12’s het óók in die uitspele teen Witrivier gewen, waar Laerskool Laeveld teen Laerskool Bergland afgereken het.
Die dogters van Nelspruit het puik presteer. Laerskool Lydenburg het met 1-0 teen Laerskool Bergland gewen. Laasgenoemde se o/11’s het egter Laerskool Nelspruit stof in die oë geskop. Die hoogste telling is deur Nelspruit se o/12-span aangeteken wat Uplands 3-0 geklop het.
