Gholfspelers sê mekaar die stryd aan
Die plaaslike hoërskool se gholfdag het soos oudergewoonte vir 'n dag propvol genot gesorg toe spelers mekaar die stryd oor 'n paar putjies aangesê het.

LYDENBURG –
Die 68 spelers is deur ‘n helderblou hemel begroet en ‘n
geniepsige windjie het nou en dan gehap, net betyds vir ‘n verskoning as ‘n bal
dalk effens in die verkeerde rigting gestuur is.
Volgens Lusché du Preez,
organiseerder van die toernooi, was die dag ‘n reusesukses. “Alle verwagtinge is
oortref en ek is heeltemal uit die veld geslaan.”
Otto en René Schulze het
elk ‘n skaatsplank as troosprys ontvang en is grappenderwys aangemoedig om dalk
‘n ander sport te oorweeg. Die koring is egter van die kaf geskei toe Danie
Oosthuizen en Stefan Greef as wenners uit die stryd getree het. Die tweede plek
het aan Rick Lourens en Rudi Hatting behoort. Hoërskool Lydenburg bedank graag
elke borg wat dit moontlik gemaak het.
