Mooiste roete eerste aan die beurt in hardloop-seisoen
Hardlopers het Saterdag die seisoen met 'n Om die Dammetjie, een van die Laeveld se mooiste roetes, afgeskop.
NELSPRUIT – Op ‘n lekker somersdag het hardlopers Saterdag die seisoen met ‘n wedloop op een van die Laeveld se mooiste roetes afgeskop. Die jaarlikse Nedbank Om-die-Dammetjie-wedloop by Witklipdam het weereens mense van regoor die Laeveld getrek. Hulle het douvoordag opgestaan om 07:00 weg te spring.
Die half-marathondeelnemers het heeltemal om die dammetjie gehardloop. Die wenner van die mans se oop-kategorie was Ntuthuko Maseko met ‘n tyd van 1:11:20. Kort op sy hakke was Lovers Hlatshawayo (1:13:11) en Rewano Swartz (1:21:01). Die vroue wenner, Noria Sibanda het die 21km binne 1:33:58 voltooi. Dit was net ‘n kortkoppie voor Natia van Heerden (1:34:09) en Natashia Kask (1:37:28).
De Villiers Smit was met ‘n tyd van 1:17:05 die vinnigste junior man. In die kategorie vir mans ouer as 60, was Isaac Manyisa se 1:40:55 die vinnigste. Onder diegene ouer as 50, was Raphael Ndlovu met 1:43:50 die vinnigste, terwyl Allison Hay met ‘n tyd van 1:40:59 eerste van die vroue klaargemaak het. Abednego Shonjwe se 1:22:26 het hom die vinnigste man ouer as 40 gemaak, terwyl sy vroulike eweknie Priscilla Dlamini met ‘n tyd van 1:23:46 gewen het.

Die 10km-wedloop se oop-kategorie is deur William Mothosola in ‘n tyd van 32:24 gewen. Philami Mkhwanazi (32:48) en Simon Sibisi (36:22) was onderskeidelik tweede en derde.
Constance Mabuso het die vroue-afdeling met 52:30 gewen. Adri Kruger (55:00) was tweede, gevolg deur Diane Cresswell (55:57). Die junior wenners was Pietie Oosthuizen met 37:19 en Madri Wiid met 45:10. Aaron Themba was die vinnigste man ouer as 40 met 43:15 en Rheta van Rensburg se 57:23 het haar die vinnigste vrou gemaak. Johannes Nyalunga (44:06) en Annemarie van Brakel (1:07:05) het die ouer as 50-kategorie gewen.
Annie van Heerden was die vrou wat in die ouer as 60 kategorie gewen het met ‘n tyd van 1:17:05.

