Die Laeveld spog met tennishelde
Die naweek van 23 tot 25 Augustus was Nelspruit se tennisbane propvol aksie. Tennispelers vanuit die hele Mpumalanga-streek het aan die junior inter-distrikstoernooi deelgeneem.

Die drie streke, Laeveld (Nelspruit, Witrivier en Lydenburg), Wes-Mpumalanga (Middelburg, Witbank en Groblersdal) en Hoëveld (Standerton, Secunda en Ermelo) neem jaarliks aan die toernooi deel.
Die Laeveld-spelers het deur die jaar bitter hard geoefen om uitstekende
prestasies te lewer – die o/11- en o/13-seuns en -dogters van die Laeveld het
met die tennispelers van die Hoëveld afgereken.
Die o/13-dogterspeler van die Laeveld, Njabelo Nyasenga het ál ses haar wedstryde met vasberadenheid en uithouvermoë gewen.
Die o/15-seuns het as algehele wenners van die baan afgestap en selfs vir Wes-Mpumalanga ore aangesit. Die o/18’s het hard geveg om óók baie goed in die toernooi te presteer.
