Witrivier is slaggereed vir die interlaer
Op julle merke, gereed... dis amper tyd vir Interlaer 2014!

“Ons is baie opgewonde om dié byeenkoms aan te bied,” het Laerskool Witrivier se atletiek-organiseerder, mnr. Martin Nienaber gesê. Laerskool Witrivier het in 2007 laas die geleentheid aangebied.
Ten spyte van ‘n bietjie uitvis was mnr. Nienaber maar traag om hul tema hierdie jaar weg te gee. “Kom ons sê maar net dat die fokus is om plaaslike kuns en kunstenaars te ondersteun,” het hy gelag.
Meer as 2 000 leerlinge en ongeveer 840 jong atlete word verwag.
“Dis maar moeilik om te voorspel hoeveel ouers daar gaan wees, aangesien dit wel ‘n weekdag is.”
Alhoewel daar nie meer ‘n sangkompetisie is nie, is al die laerskole se dirigente druk besig om krete en liedjies te oefen aangesien dit tog nog die gees van die skool weerspieël.
Die dag sal om 08:00 met die dirigente se opkoms begin. “Ons vra asseblief dat al die ouers reeds om 07:00 by Hoërskool Rob Ferreira se sportgronde sal wees. Toeskouers moet van die ingang in Norwinstraat agter die skool gebruik maak; daar sal ook parkering wees.”
Mnr. Nienaber glo ook dat ‘n hele paar rekords hierdie komende Vrydag
op Robbies se atletiekbaan verbeter sal word. “Ons het selfs ‘n paar goeie
middelafstand-atlete wat beslis dopgehou moet word.”
Die hekkie-items sal eerste gehou word waarna die dag stelselmatig sal opbou na die aflos-items wat laaste sal plaasvind. Die veld en baan is na die reën van die naweek in ‘n puik toestand en dit beloof om ‘n warm en groen byeenkoms te wees.
