‘Geeste’ is reg vir aksie
Vandeesweek het daar 'n ander soort gees by Komatipoort Akademie geheers.

Die interhoërgees loop rond en onderwysers en leerlinge het gepas volgens die tema aan elke dag aangetrek. Maandag was “nerd”-dag. Dinsdag kon entoesiaste ‘n strokiesprentkarakter uitbeeld en kinders het dit geniet met hul koel onderwysers en kantoorpersoneel wat die verbeelding laat gaan het en onder andere in “Liewe Heksie”, “Harry Potter”, “Teletubbie” en ‘n paar oulike feetjie-monderings by die skool opgedaag het. Op die skoolterrein is ‘n paar potblou “Smurfie-karakters” tydens klaswisseling opgemerk. Woensdag kon enige iets wat met die letter “k” begin het voorgestel word en Donderdag was Malkoppie-dag. By dié skool is daar nie net tyd vir leer nie, maar daar word óók vir pret tyd gemaak. Die interhoër vind Saterdag 22 Februarie op Hoërskool Bergvlam se sportgronde plaas.
