Laaste kans om beste Pumas-span te kies
Die rugbyseisoen is hier in al sy glorie met die SuperRugby-reeks wat verlede naweek afgeskop het.

Ook hier het die Steval Pumas-verteenwoordigers, Faf de Klerk en Stefan Watermeyer, asook die ander voormalige Nelspruiter, Marnitz Boshoff in die MTN Leeusspan gewys dat vanjaar beslis ‘n groot jaar vir die
pienktruie kan wees.
Saterdag sal Jimmy Stonehouse sy laaste geleentheid hê om sy Vodacombeker-beginspan te kies wanneer hulle hul laaste voorseisoenwedstryd op Coca-Cola Park gaan speel in ‘n voorwedstryd vir die Super 15-kragmeting tussen die MTN Leeus en die DHL Stormers.
Die Laevelders sal teen ‘n gedugte MTN Leeus-Vodacombekerspan speel wat heel moontlik van die nie-spelende SuperRugby-spelers soos Elton Jantjies kan insluit.
‘n Groot eer en verantwoor-delikheid het op die skouers van een van die Laeveldse klubspelers, Johan Pretorius, geval met sy insluiting in die groep van 26 wat na Johannesburg sal reis.
Hy is as die plaasvervanger-skrumskakel in die plek van Johan Herbst gekies wat tans van ‘n handoperasie herstel. Nog ‘n jong kandidaat waarna die Puma-afrigtingspan kyk is die veelsydige voorspeler Joubert
Horn (voormalige GWK Griekwa), wat ook in die groep ingesluit is na hy die week saam met die span geoefen het.
Die afrigtingspan het wel ‘n baie ervare een in die veld gestoot met 13 van die curriebeker promosie-wenspan in die groep. Die ervare slot, Marius Coetzer sal op die veld lei as kaptein.
“Ons is baie opgewonde oor die wedstryd en die manne werk hard vir ‘n posisie in die beginspan. Ek glo die Leeus gaan nie terughou nie en daarom moes ons die sterkste span kies, siende dat dit ons laaste geleentheid is om in ‘n wedstrydsituasie die manne te kan opsom.
Dit is wel verblydend om te sien dat al die spelers wat beserings gehad het, met die uitsondering van Oupa Herbst, weer aan die oefen is,” noem Stonehouse.
Na dié kragmeting is daar net twee weke oor voordat die eerste Vodacombeker-fluitjie blaas. Die Pumas sal dan in Kempton Park op 8 Maart teen die Valke uitdraf, waarna die groot stryd op Mbombela teen die Blou Bulle 15 Maart sal volg. Rugbygeesdriftigers kan dié hele
dag saam met hul geliefde span deurbring, wat met ‘n sake-ontbyt sal afskop.
Meer besonderhede oor die oggend se verrigtinge sal later deurgegee
word.
Volgens Roelf Kotzé van die Mbombela Stadion sal kaartjieverkope vir
die eerste tuiswedstryd van die Pumas vroeg volgende week by Computicket open.
Die groep van 26 is: JW Bell (15), Jerome Pretorius (14), Wilmaure Louw
(13), Dewald Pretorius (12), Deon Scholtz (11), JC Roos (10), Sinovuyo Nyoka
(9), RW Kember (8), Doppies le Roux (7), Jaco Bouwer (6), Marius Coetzer (5),
Giant Mtyanda (4), Stephan Kotze (3), Jacques Momberg (2), Vincent Koch (1).
Plaasvervangers: DeJay Terblanché, Sabelo Nhlapo, Drew van Coller, Renaldo
Bothma, Corné Steenkamp, Johan Pretorius, Ashwin Scott, Hennie Skorbinski,
Justin van Staden, Uzair Cassiem en Joubert Horn.
