Local sportSport

‘n Uitdaging wag op die setperke

Het jy genoeg murg in jou pype om die 2013 Sanlam Kankeruitdaging-kampioen, Braam Haasbroek op die gholfbaan aan te vat?

Die kompetisie vind môre op die Witrivier-buitebaan plaas en die Nelspruiter is slaggereed om sy titel te verdedig.
Alhoewel hy met ‘n voorgee van 15 speel, het hy onlangs die Ernie Els-uitdagingstoernooi op Oubaai in George óók gewen. “Ek is genooi om
drie dae saam met die “Big Easy” op sy gholfbaan te speel en ‘n nag op sy
wynplaas in Stellenbosch deur te bring. Ons was agt spelers met twee vierballe – die vrouekampioen, Marinda Pretorius, Ernie se bestuurder, Gary van Loggerenberg, die Vrystaat se provinsiale-kaptein, Ivan van der Merwe en natuurlik Ernie was van die spelers op die baan.”
Haasbroek het 42 punte aangeteken en in uiterste weersomstandighede en gietende reën sy opponente op hul neuse laat kyk. Hy beskou dit ook as een van die moeilikste bane waarop hy al gespeel het en vertel dat die dreineringstelsel daarvan merkwaardig is. Die 33-jarige kan nie uitgepraat raak oor sy wonderlike ervaring in die Kaap nie.
“Ernie is plat op die aarde en die ongelooflikste mens. Die toerleier en ook
Ernie se handelsmerkbestuurder, Duncan Woods, het ons die hele wynproses gewys en die plaas is pragtig. Ek het selfs die geleentheid gehad om die Claret Jug wat as die mees gesogste beker onder gholfers bekend is, wat Ernie verower het, vas te hou.”
Meer as 40 000 spelers gaan in meer as 800 klubkompetisies
regoor die land speel om KANSA te ondersteun. “Die hele ervaring het my siening oor die organisasie verander. Ons nooi spelers en besoekers uit om die dag saam met ons te kom geniet en baie geld vir die organisasie in te samel wat soveel mense se lewens daagliks verander.”
Die legendariese Els gaan nou wel nie die dag speel nie, maar ‘n hele paar ander groot name soos Haasbroek, Pretorius en Van Loggerenberg gaan op die baan wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button