Kampioen buig knie in uitdaging
Clayton "Spike" Schmidt en Thinus Neethling het Braam Haasbroek en sy spanmaat Johnny Denny Saterdag op die Witrivier-buitebaan in die Sanlam Kanker-uitdagingtoernooi laat les op sê.

Dié twee het met ‘n totaal van 50 die algehele wenprys ingepalm, terwyl die verdedigende kampioen en Denny 47 geslaan het.
Altesaam R17 000 is op die dag vir KANSA ingesamel. ‘n Hele paar boetes
soos die belediging van ‘n speler, swak dryfhoue, rook op die baan en vuiltaal, is vir spelers uitgedeel.
Sr. Rona Labuschagne het óók prostaat-spesifieke-antigeen-vingerpriktoetse na die tyd teen R50 gedoen.
Haasbroek, wat die 2013 Sanlam-uitdaagtoernooi by Lost City én die
afgelope Ernie Els-toernooi op Oubaai in George gewen het, is met sy eerste dryfhou van die skoonveld af, maar het goed herstel en op die setperk geëindig.
“Dit was ‘n heerlike dag en almal het die gholf vreeslik geniet. Ek is baie bly
dat ek deel van die reëlings kon wees.”
Casper Strydom en Jurie Grobler het tweede geëindig en Ruan Dreyer en Dewald Stoltz derde. ‘n Totaal van 127 spelers het die oggend- en middagveld gespeel.
“Ons wil namens CANSA Care Clinic Lowveld aan ons hoofborg, Sanlam en veral aan Braam wat die geleentheid moontlik gemaak het, baie dankie sê. Dit was ‘n groot sukses en ons sien uit na komende geleenthede waar nog meer fondse hopelik ingesamel kan word,” het die streeksbestuurder, Jacqueline Weideman gesê.
Pryswenners het tafels vol geskenke, soos piekniekmandjies, kombuisskale, steakmesse en wynhouers gehad, om van te kies.
Meer as 40 000 spelers het in 800 klubkompetisies Saterdag
afgeslaan om KANSA in dié toernooi te ondersteun.
Die volgende geleentheid waar die gemeenskap ‘n bydrae kan lewer, is by die Relay For Life wat vanaf 8 tot 9 Maart op Penryn se velde plaasvind.
