Klubrugby ‘n fees vir ondersteuners
Daar is die afgelope naweek goeie rugby op Malelane se tuisgrond gespeel.

Klubs van Barberton, Riverside, Carolina, Lydenburg, Belfast en Ohrigstad
het aan dié vriendskaplike toernooi deelgeneem.
Vrydag het Malelane se tweedes hul bure, Komatipoort, die stryd aangesê.
Die wedstryd het om 18:15 afgeskop en die reën het beide spanne se spel beïnvloed.
Die tuisspan kon nietemin ‘n oorwinning van 7-3 aanteken. Saterdag was ‘n groot dag vir rugbyliefhebbers en hulle kon hulself vanaf 09:00 tot 20:00 in die vuurwarm-aksie op die veld verlustig.
Die openingswedstryd was tussen die tweedes van Malelane en Nelspruit en die besoekers moes die knie met 0-13 buig.
Die Olifante (Malelane se eerstes) het daarna Witrivier gepak, maar het na ‘n belowende eerste helfte hulle rieme in die tweede vasgeloop.
In die eerste 10 minute van die wedstryd het Nico Prinsloo die bal in die hande gekry en tussen die pale geplant.
Chris Botha het soos gewoonlik sy skopskoen aangehad en het die
drie verdoel. Teen rustyd het die Olifante met 14-12 voorgeloop.
Die opponente se afrigter moes egter harde woorde in die kleedkamer gespreek het want die manne van Witrivier het die Olifante nie weer laat deurbreek nie.
Die eindtelling was 19-15 in die guns van die besoekers.
