Jong gholfster doen dit weer
Die gholf-rekordboeke het sedert die 1970's geen nuwe inskrywings gehad nie. Na 36 jaar kan hulle egter uiteindelik herskryf word en Nelspruit se eie gholfheld, Thriston Lawrence se naam gaan daarin spog.

Hy het Vrydag wéér Sanlam se mees gesogte Suid-Afrikaanse amateurtitel op die Hermanus Gholfklub ingepalm nadat hy dit verlede jaar ook met die eerste probeerslag gewen het.
“Ek het verlede jaar op die Johannesburg-buiteklub se Rocklands-baan gaan speel om die waters te toets en om te sien hoe ver ek sal vorder, maar dié jaar het ek gespeel om my titel te verdedig,” vertel Lawrence.
Hy is die eerste speler wat dit na 36 jaar reggekry het om die titel vir die tweede agtereenvolgende jaar te kon verower. Teddy Webber het dit laas in 1978 gedoen. Die Nelspruiter het teen Alti van der Merwe van die Belville Gholfklub in die sesde ronde te staan gekom en hom 5/4 geklop.
Sy setyster het geen perke geken nie en hy het vyf voëltjies na mekaar aangeteken.
Die toernooi het Dinsdag afgeskop. Hy het Donderdag gesê dat dit ‘n rowwe week was en dat hy nie regtig op die rekord gekonsentreer
het nie, alhoewel dit in sy agterkop was. Hy het in die vierde ronde die Skot, Scott Gibson, ore aangesit en in die voorlaaste ronde, James du Preez laat les opsê.
Die 17-jarige het op die brose ouderdom van 16, die jongste wenner nóg van die trofee geword. Hy word eers vroeg in Desember 18.
Hy het Desvonde Botes se 22 jaar oue rekord met meer as twee maande oortref en is byna drie maande jonger as wat Ernie Els was toe hy in 1986 die rekordhouer geword het. Steven, sy pa en joggie, loop breëbors rond.
“Dit is ‘n ongelooflike prestasie om voor die ouderdom van 18 dié toernooi twee jaar in ‘n ry te wen.” Sy ma, Heide, het sy vordering oor die telefoon gevolg en uit haar vel van opgewondenheid gespring toe haar man haar die goeie nuus meegedeel het.
Lawrence is beskeie oor sy prestasies, maar is baie bly oor die wen. “Toe daardie bal in die gaatjie inrol… ek kan nie die gevoel beskryf nie.”
Sy laaste setspel was 15 voet en hy het die baan as een van die moeilikstes nóg beskryf. Sy volgende uitdaging is die Northerns Amateur-kampioenskappe wat Sondag in Johannesburg begin.
