Vrouehengelaar vaar uiters goed in visvangkompetisie
Witrivier-inwoner Nicolette Brits is onlangs in die Noord-oos Mpumalanga A (NOM,) hengelspan opgeneem.

Die vroue het in die president-afdeling gehengel waar
hulle vir die afgelope drie jaar elke keer met die eerste plek weggestap het.
Dié afdeling is waar al die klein bonde teen mekaar meeding.
Die jaar het hulle besluit om die groot bonde aan te durf, wat uit Mpumalanga, Gauteng, Noordwes, Gauteng Noord, Vrystaat en Sentraal Gauteng bestaan.
Die vroue het die ander spanne op hul neuse laat kyk en die eerste plek behaal. Die span het van die eerste dag af voorgeloop en 10 van die lede, wat Brits insluit, is na die Suid-Afrikaanse Varswater-Oewerfederasie (SAVOF) proewe uitgenooi wat by Bloemhofdam gehou is.
Dit is ‘n baie groot prestasie vir haar om deel van die NOM A-span te wees, wat teen ‘n hele paar Protea-hengelaars kragte gemeet het.
Die spanne vir die Proteas se nasionale span sowel as SAVOF is bekendgemaak, maar ongelukkig is Brits nie gekies nie.
Sy het egter nie moed verloor nie en gaan volgende jaar met ‘n groter aanslag weer probeer om haar SAVOF-kleure te verwerf.
Vir verder inligting oor die hengelklub skakel Nicolette Brits by 082-770-5359.
