Local sportSport

Pumas skop seisoen op ‘n hoë noot af

Die 2014 Vodacombeker-seisoen het vir die Steval Pumas op 'n hoë noot begin toe hulle Vrydagmiddag met 26-6 in hul eerste ligakragmeting teen die Valke in Kempton Park geseëvier het.

Met ‘n relatiewe ervare span het die Pumas op papier baie sterk gelyk, maar die manne het aanvanklik gesukkel om aan die gang te kom. Danksy JC Roos en Jerome Pretorius het die telbord geleidelik aangerol, maar die Valke het nooit besgegee nie.

Vir die Pumas was dit die skopvoet van Roos wat die eerste punte op die bord gesit het waarna Pretorius vir ‘n pragdrie oor die doellyn gegly het.

Hy het nóg ‘n strafskop deur die pale vir sy span se 13-6 voorsprong teen die aanbreek van rustyd gejaag. Dit was Cecil Dumond wat die Valke in die wedstryd probeer hou het.

Wat gerusstellend was, was die feit dat die voorspelers soos bisons geskrum en met goeie lakwerk die Valke geen kans gegun het om oor die voordeellyn te kom nie.

Selfs met die ruilings wat gemaak is, wat gewoonlik die ritme van enige span ietwat onderbreek, het die Pumas steeds die Valke-pak onder druk geplaas.

Die Pumas se agterlyn, wat nog nooit regtig vanjaar saamgespeel het nie, het hulle goed van hul taak gekwyt en daar is beslis hoop vir die seisoen.

Met baie spoed op die punte kan Puma-aanhangers vanjaar na ‘n drieë-fees uitsien.

Na die breek het dit gelyk of die Valke met nuwe vuur wou speel, maar wéér het Pretorius en Roos vir ‘n herhaling van die eerste helfte gesorg.

Daar was egter vele verbroude kanse wat beslis in punte omskep kon word, maar dit kon nie aan te min tyd toegeskryf word nie.

Dié naweek is natuurlik vir die pienktruie ‘n eerste tuiswedstryd, en wat ‘n groot een, die Blou Bulle.
Verlede jaar het die span op Loftus Versveld die manne met ‘n oorwinning geskok en dit kan beslis weer gebeur.
Saterdagoggend sal rugbyliefhebbers eers saam met die 2013- kampioene ontbyt kan eet en al die fondse is ten bate van die spelers se fonds, waarna die wedstryd om 15:00 afskop.

Na die naweek se kragmetings is die Pumas tweede op die ranglys met vier punte.

Die Down Touch Griffons is eerste na hulle met die slaansakke van die reeks, die Assupol Limpopo Blou Bulle 62-10 afgereken en ‘n bonuspunt verdien het.

“Die wedstryd teen die Bulle gaan nie ‘n maklike een wees nie, maar ek vertrou ons is slag-gereed vir hulle. Daar was basiese foute wat die manne Vrydag gemaak het, maar daar is ongelooflik baie positiewe wat ek uit die wedstryd kon neem.

“Ons verdediging van voor- en teen agterspelers en dan natuurlik ons skrumwerk was baie goed.
“Ons sal net hierdie week baie hard aan balretensie moet werk en om nie soveel strafskoppe af te staan nie.
“Dan sal ek ook hard fokus op ons afronding siende dat ons soveel as moontlik bonuspunte moet opgaar om bo aan die punteleer te bly,” noem die breier, Jimmy Stonehouse.

Besprekings vir die ontbyt kan by bookings@pumas.co.za gemaak word.

Die sperdatum is 13 Maart om 12:00. ‘n Tafel vir agt persone beloop R960 en individuele kaartjies is R120 per persoon. Navrae: Cassandra McLaren by 083-254-4048.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button