Tennis gaan voort ondanks reën
'n Reënerige naweek het vele beoogde sportbyeenkomste in die hek laat duik, maar danksy die harde bane, het tennis voortgegaan.

Die Mpumalanga Tennis Tiebreaker Bonanza wat Saterdag en Sondag by Van Riebeeckpark gespeel is, is wel deur die stormbuie onderbreek, maar dit was eers teen eergistermiddag dat die finale wedstryde afgelas is.
Volgens Johan Greyling, organiseerder van die Bonanza, kon hulle nie die semifinale of finale wedstryde speel, nadat dit Sondag om ongeveer 12:30 begin reën het nie.
Wat die toernooi spesiaal maak, is dat die pare tussen ouderdomme en geslagte gemeng is en die spelers net valbylpotte speel.
Tog kon deelnemers heelwat speeltyd inkry voor dit teen 14:00 afgelas is. Dit behels ‘n rondomtalie waarin vyf pare in vyf groepe die beste uit vyf valbylpotte speel.
Die twee sterkste spanne uit elke groep dring dan na die uitspeelwedstryde deur om uiteindelik die wenners te bepaal. Hierdie proses is egter ongelukkig deur die weer kortgeknip.
